Buitelandse nuus: ʼn Bloedbad, ruimtevaarders en aardgas

Ruimtevaarders dag later terug

Drie bemanningslede van die internasionale ruimtestasie wat vandag na vyf maande in die ruimte sou terugkeer na moeder aarde, se terugreis is deur slegte weer in Kazakstan met minstens ‘n dag vertraag. Die drie, Kevin Ford van NASA en die Russe Oleg Novitsky en Yevgeny Tarelkin het reeds in die ruimtekapsule gesit waarin hulle sou terugreis, toe die reis opgeskort is.

Russe en Europa wil saam na Mars

Die Russiese ruimtevaartagenskap, Roskosmos, en die Europese ruimteagenskap, ESA, het ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit om tussen 2016 en 2019 ‘n gesamentlike Marsmissie van stapel te stuur. Rusland sal die vuurpyle verskaf, en die ESA sal dit toerus.

Nasa het intussen bekend gemaak dat daar voorheen lewe op Mars kon bestaan het. ‘n Rotsmonster wat aan boord van Curiosity ontleed is het getoon dat daar spore van swael, stikstof, suurstof, fosfor en koolstof aanwesig is.

Bloedbad in Cancun

Twee  mans wat masjiengewere bewapen was, het sewe mense doodgeskiet en vier gewond toe op ‘n groep mense in Cancum, gewilde vakansiebestemming in Meksiko, losgebrand is.

Li formeel Chinese eerste minister

Li Keqiang is formeel as die nuwe premier van China aangewys. Hy volg Wen Jiabao op, en word as rustige burokraat beskryf. Dit volg net ‘n dag nadat Xi Jinping formeel tot nuwe president van die land benoem is.

China koop groot belang in Mosambiekse aardgas

Die Chinese energiereus, CNPC, het ‘n belang van 20 persent in Mosambiek se gasreserwes gekoop. Dit is teen byna $3 miljard aangeskaf, en was CNPC se grootste transaksie tot dusver. Mosambiek se gasreserwes word as groter as dié van Noorweë beraam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.