Buitengewoon groot borste glo weens ARV-medisyne

Ntombi Mekgwe, LUR vir gesondheid in Gauteng, sal Sondag ʼn vrou besoek wat buitengewoon groot borste ontwikkel het, moontlik weens die gebruik van anti-retrovirale (ARV)-medisyne.

Die vrou is onlangs na die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg geneem om behandeling te ontvang vir lipodystrofie, berig EWN. Diegene wat aan dié toestand ly, verloor vet, gewoonlik in een deel van die liggaam, en die vet word dan na ander gebiede versprei. Die 29-jarige vrou het glo gesê haar borste het in 2008 drasties begin groei. Sy sou ʼn borsverkleiningsoperasie in 2009 ondergaan, maar die operasie kon weens haar bloedarmoede en beenmurgtekort, nie voortgaan nie.

“Die vrou se toestand is seldsaam en kan bestuur word indien die ARV-medisyne verander word,” het Simon Zwane, woordvoerder van die departement van gesondheid, gesê.

Die Sowetan het die afgelope week ʼn berig publiseer oor ʼn HIV-positiewe man wat borste begin ontwikkel het nadat hy ARV-medisyne vyf jaar gelede begin gebruik het. Die borste het twee jaar ná hy die medisyne begin gebruik het, ontwikkel. Die man van Mpumalanga se borste is onlangs by ʼn hospitaal in Johannesburg verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.