Blue Bulls dra die kroon in PE

Akona Ndungane van die Bulle

Die Bulls het die Kings soos onderdane laat lyk nadat hulle die Oos-Kapenaars in Port Elizabeth met 34-0 afgeslag het.

Die Pretorianers het boonop ‘n bonuspunt vir vier drieë behaal en daarmee bewys dat hulle weer aanspraakmakers op die Super15-kroon is.

Dit behoort ‘n soete oorwinning vir die Bulls se breier, Frans Ludeke, te wees nadat hy vandeesweek pa van ‘n drieling geword het. Die Bulls is met 28 punte derde op die algehele punteleer ná die Blues en die Brumbies en eerste op die Suid-Afrikaanse punteleer.

Daar was ook tonne ondersteuning vir die Bulls in die Nelson Mandel Baai-stadion en pienk en blou truie was oral te sien.

Die Bulls het, nes laas week teen die Cheetahs, gewys hulle gaan hul teenstanders fisiek intimideer en het met inklimspel die Kings lam gelê in die eerste paar minute. Die buitesenter, JJ Engelbrecht, het reeds ná slegs enkele minute oorgeduik om sy span se rekening te open. Morné Steyn het met sy geleerde skopvoet die twee punte bygevoeg en kort daarna nog ‘n strafskop ook.

Die Bulls se kranige skrumskakel, Jano Vermaak, het ná puik ondersteunende spel en hantering deur die Bulls se agterspelers vir die tweede drie oorgeduik. Steyn het die gebruiklike twee punte bygevoeg en die telling kort daarna na 20-0 laat aanskuif toe hy sy ‘n skepskop oorgeklits het.

Die Bulls het hul voet so effens van die versneller in die begin van die tweede helfte afgehaal en die Kings het verwoed aangeval. Die besoekers se rotsvaste verdediging wou egter geensins bes gee nie en die Kings is frustreerd gelaat.

Steyn, Jurgen Visser en Vermaak het die tuisspan in hul eie helfte vasgepen deur hulle met slim skoppe na die hoekies te peper en al hul aanvalsmoeite ongedaan te maak.

Die oud-Oos-Kapenaar Jacques Potgieter en die Bulls-veteraan Akona Ndungane het in die laaste vyf minute gaan druk om hul span ‘n roemryke oorwinning asook vyf punte op die punteleer te besorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.