Blue Bulls is baas in Pretoria

Jano Vermaak van die Bulls

Die Cheetahs het almal verbaas deur vyf keer agtermekaar onoorwonne van die veld af te stap in die laaste paar weke, maar kom ons wees eerlik: Daardie spanne was nie die Bulls nie.

Die Pretorianers het ná drie agtereenvolgende nederlae teen oorsese opposisie die Blikore met 26-20 op Loftus Versfeld afgestof en só hul Super15-seisoen nuwe woema gegee. Die rustydtelling was 9-6.

Maar soos die telling aandui was dit nie maklik nie en soos ons nou al die kragmetings tussen hierdie twee spane leer ken het, was dit ‘n klipharde stryd reg tot die einde. Die Cheetahs kon egter nog nooit die driemalige Super-kampioen in hierdie reeks klop nie.

Dit was die Cheetahs se held van verlede week se wedstryd teen die Stromers, Burton Francis, wat die telbord vroeg reeds laat beweeg het met ‘n strafskop. Hy het dit later verdubbel met nog een.

Die 35 000 toeskouers het gedreun toe Morne Steyn sy span se eerste punte aangeteken het danksy ‘n strafdoel. Hy het kort daarna die tellings gelykop gemaak met nog een.

Francis het die Vrystaters rede gegee om hul sterte halftyd in die te hê toe hy met nog ‘n strafskop geslaag het.

Die Bulls het die tempo stukrag ná rustyd gegee. Die tuisspan se kranige skrumskakel Jano Vermaak het die Cheetahs se swak verdediging blootgelê toe hy met ‘n vaardige dartellopie agter die pale gaan kuier het. Steyn het duidelik sy skopskoene vanaand aan gehad en die drie is verdoel waarna hy ook ‘n strafskop oorgeklits het om die telling op 16-9 te staan te bring.

Elke span was daarna suksesvol met twee strafdoele en met die telling op 19-12 het Francis een van sy twee noodsaaklike skoppe van die wedstryd verbrou.

Die Bulls se verdediging het ná talle Cheetah-aanslae gevou toe die stut Trevor Nyakana verspot maklik soos ‘n wafferse vleuel oorgeduik het vir ‘n drie. Francis het met sy tweede skop misluk en die Blikore was steeds met twee punte agter.

Die Bulls het gewys hulle gaan nie net verdedig om voor te bly nie en met hul massiewe voorspelers die Cheetahs op hul doellyn vasgekeer toe die plaasvervanger Callie Visagie gaan druk het. Steyn het dit 26-17 gemaak.

Francois Brümmer het egter verseker sy span verlaat Pretoria darem nie met leë hande nie en het in die laaste sekondes drie punte bygevoeg by wyse van ‘n strafskop om ‘n bonuspunt te verseker.

Albei spanne het ‘n tawwe naweek wat volgende week voorlê. Die Bulls reis na Port Elizabeth om die indrukwekkende Kings die stryd aan te sê en die Cheetahs pak die gekweste Sharks in Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.