Bulls klop Canes maklik

Die Nieu-Seelandse Hurricanes het Loftus Versfeld toe gekom om ‘n rugbyles te leer nadat die Bulls hulle 48-14 in ‘n opwindende wedstryd geklop het.

Die halftydtelling was 27-0. Die tuisspan het boonop vier drieë gedruk om die bonuspunt te verseker en kan volgende naweek se loslootjie as ‘n baie tevrede groep spelers geniet.

Die Bulls was daarbenewens ‘n ligstraaltjie in ‘n baie donker naweek vir Suid-Afrikaanse spanne met die Stormers, Sharks en Kings wat almal in die stof geyt het teen oorsese opposisie.

Die Pretorianers het hulself as die tempo-aangeërs van die Suid-Afrikaanse konferensie gevestig met hierdie wen en gewys enige span moet Fort Loftus met vrees bejeën. Hul verdediging, kliniese afronding en brute krag is iets wat tans byna ongeëwenaard is in die Super15.

Ná hierdie oorwinning is die Ligbloues eerste in die Suid-Afrikaanse konferensie en derde op die gekombineerde punteleer.

Nadat die skerpskutter Morné Steyn twee strafskoppe deur die pale gejaag het in die eerste paar minute, het die Bulls-senter JJ Engelbrecht die bal onderskep om te gaan druk. Steyn het verdoel om die telling 13-0 te maak.

Die Bulls se kenmerkende rolmaalbeweging het kort daarna tot Deon Stegmann gelei en Akona Ndungane het kort voor rustyd ‘n Canes-aangee onderskep om deur te draf vir nog ‘n drie.

Die Canes het egter ná halftyd gewys hulle gaan nie ‘n slaansak wees nie en die skrumskakel TJ Perenara het twee maal gaan druk. Beauden Barrett het beide drieë verdoel.

Die Bulls se Dean Greyling, Louis Fouché en Lionel Mapoe het hierop geantwoord met drieë van hul eie terwyl Steyn weer eens sekuur met die doelskoppe was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.