Bulls los byna deur oop vir Warriors

Kaptein Ruan Nortjé op die aanval. (Foto: GB Jordaan)

Verskoon tog as ʼn mens vir Christia Visser ʼn bietjie verkeerdelik aanhaal, maar die Bulls het byna die wedstryddeur teen die Glasgow Warriors op Loftus Versfeld oopgelos.

En dit was so amper ʼn hengse gemors.

Die Pretorianers het op ’n sonnige Loftus baljaar en ʼn gemaklike voorsprong opgebou voordat die Warriors weer die doedelsakmusiek laat blêr het met drie vinnige drieë binne die bestek van net agt minute.

Skielik was die telling 37 – 31 en die begeesterde Skotte – wat vroeër van hul voete deur die Bulls gehardloop is – het bloed geruik.

Maar dankie tog vir Chris Smith.

Die 29-jarige losskakel het in die 77ste minuut ʼn strafskop binne sy eie halfgebied oor die dwarslat gejaag om die wedstryd vir die Bulls met 40 – 34 te beklink.

Vóór die drama van die tweede helfte was die rugbytrots van die Jakarandastad so te sê onstuitbaar.

Ruan Vermaak was ʼn doring met sy inklimspel, Akker van der Merwe het soos ʼn wafferse agterspeler verdedigers geklop en die lynstane het klopdisselboom gewerk.

Tussendeur was daar natuurlik ook ʼn paar juweeldrieë.

Kurt-Lee Arendse (wie anders?) het net voor rustyd die bal in die hande gekry, terstond rondom ʼn paar Glasgow-verdedigers gedans en vir Elrigh Louw oor die doellyn gestuur.

Die Bulls verdien ʼn klop op die skouer vir hul vertoning, maar hulle sal die terugkomdeur deeglik moet toe hou.

Die Warriors kon so byna in.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Akker van der Merwe, Cameron Hanekom, Elrigh Louw en Canan Moodie. Doelskoppe: Chris Smith (4). Strafskoppe: Smith (4).

Glasgow Warriors: Drieë: Matt Fagerson, Kyle Steyn, Sebastian Cancelliere en Duncan Weir. Doelskoppe: George Horne, Tom Jordan en Duncan Weir (2). Strafskoppe: Horne en Weir.

  • VRK-punteleer:
  1. Glasgow Warriors: 60 punte ná 16 wedstryde
  2. Bulls: 56 punte ná 16 wedstryde
  3. Leinster: 54 punte ná 15 wedstryde
  4. Munster: 53 punte ná 15 wedstryde
  5. Stormers: 50 punte ná 16 wedstryde
  6. Edinburgh: 48 punte ná 16 wedstryde
  7. Connacht: 44 punte ná 15 wedstryde
  8. Ulster: 44 punte ná 15 wedstryde
  9. Benetton: 44 punte ná 15 wedstryde
  10. Ospreys: 40 punte ná 15 wedstryde
  11. Lions: 39 punte ná 15 wedstryde
  12. Cardiff: 25 punte ná 15 wedstryde
  13. Sharks: 23 punte ná 15 wedstryde
  14. Scarlets: 17 punte ná 15 wedstryde
  15. Dragons: 16 punte ná 16 wedstryde
  16. Zebre: 15 punte ná 16 wedstryde

Canan Moodie druk sy drie. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.