Blue Bulls seëvier in Bloem

Werner Kruger

Die Bulls bly onoorwonne teen die Cheetahs in die Super15 nadat hulle vanaand in Bloemfontein met 30-25 geseëvier het. Die halftydtelling was 17-10 in die guns van die besoekers.

Die Bulls het egter nie die bonuspunt vir drie drieë behaal nie en die Cheetahs het ’n bonuspunt behaal omdat hulle met minder as vyf punte verloor het.

Daar moet egter melding gemaak word van die gehalte van die beslissings in hierdie wedstryd. Twee van die Cheetahs se drieë – deur Riaan Smit en Trevor Nyakane – is voorafgegaan deur onderskeidelik ‘n duidelike vorentoe aangeë en blatante dubbel-kruipbeweging. Die gehalte van die skeidsregters asook lynregters en TV-skeidsregters sal drasties opgeskerp moet word.

Ewenwel, Werner Kruger het reeds die Bulls se eerste drie in die eerste paar minute gedruk. Daarna het die immeronvoorpelbare Willie le Roux vir die Cheetahs gedruk en Riaan Smit het die tellings gelyk getrek op 7 elk.

Die Bulls het die druk slegs verder opgestoot en Deon Stegmann het oorgeduik ná een van die Bulls se kenmerklike rolmaalbewegings.

Jano Vermaak het kort ná sy verskyning op die veld in die tweede helfte gaan druk nadat die Bulle die bal behendig hanteer het. Morné Steyn het deurentyd punte via sy betroubare skopskoen bygevoeg.

Die Bulls het die Cheetahs in die lynstane ore aangesit en het vir die hele wedstryd die gebiedsvoordeel en balbesit gedomineer. Hulle is steeds tweede op die algehele rangleer met 54 punte, ‘n kortkop agter die Chiefs met 56. Hulle het egter nou groot daglig tussen hulle en die Cheetahs in die SA konferensie geplaas en sal nou basies net oor die oorsese opposisie bekommerd hoef te wees met ‘n oog op ‘n tuishalfeindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.