Blue Bulls sukkel tot by wen en bonuspunt

Pierre Spies

Was dit verlede naweek se loslootjie, of die okkasie van Pierre Spies se 100ste Super-wedstryd, of die wete dat hulle die tempo straks kan verlangsaam teen die swakste span in die toernooi?

Hoe dit ook al sy, dit was omtrént ‘n stryd vir die Bulls om volpunte vir vier drieë in hul oorwinning oor die sukkelende Highlanders te kry. Dit was gewis nie maklik of mooi nie.

Nietemin het die Suid-Afrikaanse standaardstellers met 35-18 geseëvier op Loftus Versfeld en daarmee duidelike daglig tussen hulle en die res van die plaaslike spanne geplaas in terme van rangleerpunte.

Die Highlanders het in die tweede helfte twee drieë gedruk, maar die uitslag was nooit te betwyfel nie. Al wat saak gemaak het is of die Bulls die bonuspunt kon kry wat later in die toernooi deurslaggewend vir ‘n tuishalfeindstryd kan wees.

Die Pretorianers se eerste drie is deur JJ Engelbrecht in die tweede minuut van die wedstryd gedruk terwyl Jano Vermaak die vierde drie eers in die 77ste minuut gaan druk het. Tussen hierdie drieë het die veteraan-vleuel Akona Ndungane ‘n onderskepbal gevang en rieme neergelê om dit langs die pale neer te sit, terwyl Pierre Spies vroeg in die tweede helfte met sy brute krag vir die derde een oorgeduik het.

Morné Steyn het weer ‘n reuse-rol in sy span se sukses gespeel en het met ses uit agt pogings pale toe geslaag.

Die Bulls se spelers en afrigters sal in die komende week moet ontleed hoekom hulle nie in die tweede helfte op alle silinders gevuur het nie. Hul hantering was van ‘n lae gehalte, hul dringendheid en afronding uiters gebrekkig en hulle kon nie die string geelkaarte wat aan die Highlanders uitgedeel is, ontgin nie.

Die Bulls sal hul sokkies moet optrek want hulle pak volgende die Sharks in Durban en die Piesangboere is desperaat met oorlewing in die Super15 op die spel vir hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.