Bulls wen titaniese stryd in Durban

Goeie dissipline, kalmte onder druk, onverbiddellike verdediging, en Morné Steyn se skopvoet.

Dít is wat die Bulls vanaand ‘n sege oor die Sharks in Durban besorg het in ‘n stryd wat nog lank onthou gaan word. Die eindtelling was 18-16 terwyl die Bulls halftyd met 9-3 voorgeloop het. Die Bulls is steeds tweede op die algehele rangleer terwyl hulle gemaklik boaan die SA konferensie verkeer. Die Durbaniete se laaste kans om hoegenaamd nog ‘n faktor in vanjaar se Super15 te wees het saam met Jonathan Kaplan se eindfluitjie verdamp. Steyn en sy Sharks-eweknie, Patrick Lambie, het die eerste helfte met hul skopvoet gedikteer en al die punte aangeteken. Die Sharks se agterspelers het egter soos amateurs onder Steyn se hoë skoppe gelyk met die bal wat oral behalwe in hul hande was.

Die Bulls het boonop skerp op die aanval gelyk, maar ongedwonge foute begaan. Met die Sharks se Bok-stut, Tendai Mtwararira, terug in die span ná ‘n lang besering, het die Bulls se Frik Kirsten egter harde bene gekou in die eerste helfte se skrums. Lambie en Steyn het die telbord laat aantik in die tweede helfte en die Bulls se verdediging – ‘n aspek van hul spel wat groot kommer die laaste paar jaar gewek het – het die Sharks se frustrasievlakke hoër as Durban se humiditeit laat styg. Beide spanne het ook powere balhantering ten toon gestel.

Met sowat sewe minute oor het die verloopte Pretorianer Charl McLeod vir die Sharks gaan druk en Lambie het die drie verdoel. Kort daarna het die Bulls weer ‘n strafskop gekry en Steyn het die wenpunte aangeteken. Vergeefse aanvalle deur die Sharks in die laaste minute het hulle onverrigter sake die wedstryd laat klaarmaak. Die Bulls pak volgende week die magtige Cheetahs in Bloemfontein en die Sharks het ‘n loslootjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieter esterhuizen ·

mooi so bulle , julle verdien dit , die sharks en die bulle al 2 goeie spanne , mag julle nog baie wedstryde wen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.