Bulls wen ver op Loftus

Die Bulls het Saterdagaand weer gewys hoekom hulle die Suid-Afrikaanse rugbyleiers is toe hulle die Kings op Loftus Versfeld met 48-18 afgeransel het. Die rustydtelling was 31-13.

Die Bulls is boonop uitgedun met sleutelspelers soos Pierre Spies, Jano Vermaak, Arno Botha en Lionel Mapoe op die krukkelys. Klaarblyklik het hierdie sterre se afwesigheid nie ‘n verskil gemaak nie want die manne in blou het reeds in die eerste helfte vier drieë vir die bonuspunt gedruk. Die Pretorianers het altesame ses drieë gedruk. Louis Fouche het vroeg reeds ‘n wye draai om ‘n paar Kings-verdedigers gehardloop om die Bulls se eerste drie te druk. Die Kings se Demetri Catrakilis het daarna direk uitgeskop vanaf die afskop en Akona Ndungane het die bal vinnig ingegooi na sy spanmaats en Jan Serfontein het afgerond.

Chilliboy Ralepelle en Francois Hougaardt het elkeen daarna gaan druk om die viertal drieë te voltooi toe hulle albei die niksvermoedende Kings onkant betrap en onder die pale gaan kuier het. Steyn het met al hierdie drieë se verdoelskoppe geslaag terwyl Catrakilis se twee strafskoppe die telling op 31-6 te staan gebring het. Die Kings het darem nie die eerste helfte drieloos afgesluit nie en die flank Wimpie van der Walt het kort voor rustyd gaan druk toe sy span die Bulls ‘n bietjie van hul eie rolmaalbeweging-medisyne gegee het.

Die Bulls het egter op hul louere gaan rus in die tweede helfte en die Kings ‘n moontlikheid van ‘n terugvegpoging gegun. Van der Walt het ‘n byna identiese drie gaan druk, maar Catrakilis het die verdoelskop verbrou. Die Bulls het toe weer begin rug styfmaak en Jacques Potgieter en Deon Stegmann het elk ‘n drie gedruk om sout diep in die Kings se wonde te vryf. Die Bulls is met 59 punte loshande die leier in die SA konferensie en is nou tweede op die algehele ranglys, slegs twee punte agter die Chiefs. Die Chiefs is egter al ‘n wedstryd voor die Bulls en ‘n tuishalfeindstryd en die eerste algehele plek in die Super15 wink vir die Pretorianers. Hulle speel volgende week teen die Sharks op Loftus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Hoe lyk dit asof hier vooroordeel is.Wie in die Oos-Kaap sal vir Solidariteit,Afriforum,Virseker en die res van die groep wil ondersteun as hulle so uitgesproke (b)lou-bul ondersteuners en anti-Oos-Kaap is?Wat van die res van die land ?Is Solidariteit,Afriforum,Virseker,ens,slegs Pretorianers?Hoe hang hierdie onderrok nou lekker uit.Ek glo dat daar kennis geneem moet word van hierdie blou-bul organisasie wat almal ‘n rat voor die oe probeer draai.Probeer hulle die res van die land vang soos hulle vandag met die Oos-Kaap kallers geploeg het wat hulle gekoop het),met minstens 5 Oos-Kapenaars wat hulle gekoop het wat selfs die kaptein en “man of the match”ingeskuit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.