Burgemeesters verwerp Kaapse wynlande-tolprojek

Verskeie burgemeesters van die Wes-Kaap het Donderdag onderneem om aan die stryd teen die e-tolstelsel in dié provinsie deel te neem.

“Ons, as burgemeesters van die Demokratiese Alliansie (DA)-munisipaliteite van Stellenbosch, Theewaterskloof, Drakenstein, Breedevallei en die Wynlanddistrik wil ons onvoorwaardelike teenstand teen Sanral se beoogde N1 en N1-Wynlande-tolprojek uitspreek,” het hulle in ‘n verklaring gesê. “Ons ondersteun volkome die Stad Kaapstad in sy poging om ‘n interdik te bekom om die projek te keer en sal binnekort formeel met hulle vergader om ons betrokkenheid te bespreek.”

Die burgemeesters sê die voorgestelde tolhekke sal uiterste gevolge hê vir plaaslike inwoners en arm gemeenskappe wat hoofsaaklik hierdeur beïnvloed sal word. Die tolhekke sal ook die landbousektor beïnvloed. “Boere spandeer jaarliks reeds miljoene om hul vrag na en van Kaapstad-hawe te vervoer. Die beplande tolstelsel sal ‘n reuse bykomende finansiële las vir dié bedryf wees en die talle mense wat onder moeilike finansiële omstandighede in diens geneem is.”

Hulle het die nasionale padagentskap (Sanral) kritiseer omdat hy nie die koste van die projek openbaar gemaak het nie en die publiek nie ten volle laat begryp het wat die finansiële gevolge sal wees nie. Die burgemeesters sê belastingbetalers het al reeds groot somme geld betaal om die provinsie se paaie in stand te hou.

Sanral het die stad op 6 Maart met ‘n kennisgewing bedien en aangedui dat hy van plan is om met die projek voort te gaan. Beamptes van die stad het Maandag ‘n aansoek ingedien om die projek te keer.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en paaie, het gesê die dringende interdik is vir 16 en 17 Mei in die Wes-Kaapse hooggeregshof geskeduleer.

Die stad het in November 2011 ook ‘n dringende interdik bekom. Sanral het in daardie stadium ingestem om geen verdere stappe te doen om met die projek voort te gaan voordat die Wes-Kaapse hooggeregshof ‘n besluit oor ‘n hersieningsaansoek gemaak het nie. Hy het ook onderneem om die stad 45 dae kennis te gee voordat hy weer aan die projek sal begin werk. Herron sê Sanral het ingestem om nie ‘n konsessie-ooreenkoms te sluit voor 1 Junie 2013 nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.