Burry Stander-ongeluk: Taxibestuurder word vervolg

Burry Stander Foto: Facebook

Die minibustaxibestuurder wat in die ongeluk betrokke was waarin bergfietsryer Burry Stander gesterf het, sal Maandag in die landdroshof in Port Shepstone verskyn.

“Ná konsultasies met die direktoraat vir openbare vervolging, is die besluit geneem dat die man vir strafbare manslag vervolg sal word,” het kol. Jay Naicker, woordvoerder vir die polisie, gesê.

Stander (25) het Donderdagmiddag van ‘n oefenrit in Shelley Beach aan die suidkus van KwaZulu-Natal teruggekeer, toe die noodlottige ongeluk plaasgevind het. Volgens Beeld het die ongeluk reg voor sy fietswinkel, Concept Cyclery, gebeur. Stander se pa, Charles, die winkelbestuurder, het die slag gehoor.

Volgens Durban’s Daily News sal plaaslike fietsryers hul maanlig-massarit aan Stander opdra. Volgens die koerant het ooggetuie Kevin Govender gesê Stander se gesin was binne ‘n paar minute op die toneel. “Die taxibestuurder was geskok en dit het nie gelyk of hy weet wat hy doen nie,” het Govender glo gesê. “Hy het vir my gesê dit is sy slegte geluk en dat hy nie die fietsryer gesien het nie en dat hy nie weet hoe dit gebeur het nie.” Govender het gesien hoe Stander se vrou, Cherise, aan sy liggaam vasklou. “Dit is een van die hartseerste dinge wat ek nog ooit gesien het. Sy ma was baie ontsteld. Ek kon nie slaap nie, ek het die voorval die heeltyd voor my sien afspeel. Dit was baie hartseer.”

“Burry sal vir ons altyd meer as ‘n kampioen bly. Om die waarheid te sê, hy was ‘n kampioen op sy fiets en sonder sy fiets,” het Charles, Stander se pa, gesê. “Sy familie het altyd eerste gekom. Hy het nooit gehuiwer om te help waar hy kon nie.” Charles het gesê dit was die slegste oomblik van sy lewe. “Geen ouer hoef ooit sy kind op ‘n teerpad ná ‘n ongeluk te sien lê, en weet dat mens niks vir hom kan doen nie. Woorde kan nie begin om die gevoel te beskryf nie. Dit was aaklig.”

Stander se begrafnisreëlings sal volgende week gefinaliseer word.

Hy en padfietsryer, Cherise Taylor, is in Mei 2012 getroud.

Stander het vyfde plek in die mans bergfietsrywedren by die 2012 Olimpiese Spele in Londen behaal. Hy het vier jaar gelede, by die Beijing Spele, in die ouderdom van 20, 15de geëindig. Die volgende seisoen het hy bekendheid verwerf toe hy die onder-23-titel in die Bergfiets Wêreldbeker ingepalm het.

In 2011 het Stander die eerste Suid-Afrikaner geword om die Cape Epic-fase in die Wes-Kaap saam met mede-fietsryer, Christoph Sauser van Switserland, gewen. Die paar het hul titel in 2012 verdedig.

-Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.