Busbestuurder-staking begin Maandag

Metrobus-bestuurders in Johannesburg sal van Maandag af staak, het die SA Municipal Workers Union (Samwu) Saterdag gesê.

“Die bestuurders eis dat Lawrence Maqekoane, waarnemende besturende direkteur van Metrobus, geskors moet word terwyl daar gewag word op die uitslag van ‘n ondersoek na bewerings teen hom,” het Phanuel Tshikovha, voorsitter van Samwu by Metrobus, gesê. “Die staking sal voortduur totdat ons ‘n positiewe ooreenkoms bereik het.”

Die vakbond eis dat ondersoek ingestel moet word nadat Maqekoane glo maatskappybeleid verontagsaam het. Hulle is bekommerd dat die ondersoek moontlik gemanipuleer kan word indien Maqekoane steeds op sy pos is.

Tshikovha sê die vakbond het vyf hoof aanklagte teen Maqekoane. “Ons vermoed korrupsie en eis ‘n dringende forensiese ondersoek.” Samwu is ook teen ‘n “gedragsevaluering” wat Maqekoane vir nuwe aanstellings ingestel het. Hulle voer aan dit kan moontlik tot nepotisme lei.

Maqekoane het gesê hy wil nie kommentaar lewer oor die bewerings nie, aangesien hy reeds ‘n reaksie aan die vakbond verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.