Vier mense is Woensdagoggend dood na ʼn bus van SA Roadlink op die N1 naby Bloemfontein, die pad verlaat en omgeslaan het.
“Die bus was na Bloemfontein onderweg en het 28 passasiers op gehad. Die ongeluk het omstreeks 04:45 op die N1, 30km van Gariep, plaasgevind. Dit wil voorkom of die bestuurder beheer oor die bus verloor het,” het Zolile Walaza, woordvoerder van die Vrystaatse departement van vervoer, gesê.
Volgens Harry Nagel, ʼn polisiewoordvoerder, het die busbestuurder gesê hy het ʼn dier in die pad gesien en moes uitswaai om dit te vermy.
Buiten die vier wat dood is, is twee mense beseer en na ʼn hospitaal in Bloemfontein geneem. Volgens Nagel het hulle aanvanklik gedink vyf mense is dood, maar een persoon was net bewusteloos gewees.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.