Buurman en polisie trek verdagtes vas

Argieffoto

Drie vermeende rowers is Vrydag gewond nadat hulle ‘n familie in Highlands North naby Johannesburg met ‘n vuurwapen aangehou het.

“Die drie mans het die huis glo net voor 07:00 beroof,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Die verdagtes, tussen 40 en 50 jaar oud, het ‘n gesin in 8ste straat aangeval. Die gesin is met ‘n vuurwapen aangehou, vasgebind en van hul juwele, insluitend ‘n duur horlosie en drie selfone, beroof.”

Die drie verdagtes het toe glo na die tuin van ‘n naburige huis in 7de straat gevlug. “’n Man wat in die huis was het gesien iemand rig ‘n vuurwapen op hom. Hy het geskuif, die alarmknoppie gedruk en self sy eie vuurwapen uitgehaal.”

‘n Skietgeveg het ontstaan toe die polisie en sekuriteitsbeamptes by die toneel opgedaag het. Die drie verdagtes is in die skietgeveg gewond. “Die verdagtes is na die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal geneem waar hulle onder polisie-bewaking gehou word,” het Dlamini bygevoeg. “Geen polisiebeamptes is beseer nie.”

Die polisie het drie vuurwapens by die toneel opgespoor.

Die drie sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.