Nooddienswerkers van die Wes-Kaap gaan deur buurtwaglede vergesel word wanneer hulle gevaarlike gebiede besoek.
Dié inisiatief is tans in sy implementeringsfase en gaan aanvanklik in Khayelitsha, Elsiesrivier, Lavender Hill en Hanoverpark van stapel gestuur word, het die Cape Times Woensdag berig.
Buurtwaglede sal by ambulansdienspunte gestasioneer wees en die ambulanse na dié gebiede vergesel.
Volgens statistieke van die departement van gesondheid is daar verlede jaar 16 gevalle aangemeld waar paramedici aangerand en beseer is. ʼn Verdere 52 klagtes van geweld, waar geen beserings voorgekom het nie, is ook aangemeld.
Theuns Botha, die provinsiale minister van gesondheid, het gesê die ideaal is om dié inisiatief regoor Kaapstad in werking te stel. Nog ʼn opsie is om paramedici met selfverdedigingswapens soos pepersproei en skokpistole toe te rus.