Bybel in al elf amptelike tale al amper realiteit

Die vertaling van die Bybel in Suid-Ndebele is byna voltooi, wat sal beteken dat die Bybel dan in al amptelike landstale vertaal sal wees.

Mims Turley, hoof van die Bybelgenootskap se kommunikasieafdeling, het by navraag bevestig dat die finale teks binnekort van die vertalers verwag sal word. Daarna sal ‘n proses van ongeveer nog ‘n jaar volg voor die land se jongste Bybelvertaling op die rakke sal kan wees.

Ds. Jan de Wet van die Bybelgenootskap in Bloemfontein, wat op 4 Desember by die Hervormde Kerk Bloemfontein se emeritaat neem, sê die land is besonder bevoorreg. Van die wêreld se geraamde 6 000 tale beskik net 400 oor volledige Bybelvertalings.

Vroeër het ds. Jan in ‘n onderhoud oor sy werksaamhede uitgewei. Sy verantwoordelikhede het ingesluit om veral by Hervormde gemeentes die Bybelgenootskap bekend te stel, en by hulle te preek.

Die gemeente die verste suid in sy area, was by Vredenburg, en die verste punt aan die ander kant, was in Richardsbaai. Af en toe het hy ook by ander denominasies gepreek. Hy was dus lang ure op die pad met die radio as geselskap.

Die 25 jaar by die Bybelgenootskap was vol hoogtepunte. Hy kan nie oor die Bybel vir Almal, wat eers as die Bybel vir Dowes bekend gestaan het, uitgepraat raak nie. Hy is ook opgewonde oor die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling waaraan nou gewerk word, en wat ‘n baie inklusiewe proses van die Afrikaanse kerke is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.