
ANC-ondersteuners betoog voor die Durbanse landdroshof waar die voormalige Blou Bul-speler, Joseph Ntshongwana, verskyn op aanklagte van moord. Foto: Rogan Ward/SAPA
Ntshongwana word daarvan beskuldig dat hy vroeër vanjaar drie mense met ʼn byl doodgekap het. Hy is in Junie vanjaar deur die hof vir sielkundige waarneming gestuur in Fort Napier nadat sy pa aan die hof gesê het sy seun het sielkundige probleme. ʼn Verslag van die hospitaal het bevind dat Ntshongwana geskik is om verhoor te word. Ntshongwana wat onder meer tussen 1998 en 2000 vir die Blou Bulle gespeel het, het na bewering in die bestek van twee weke drie mans onthoof. Hy het glo nog ʼn man probeer aanrand maar dié het weggekom. Dié man beweer Ntshongwana het gesê sy dogter is verkrag en met MIV besmet. Volgens die polisie het Ntshongwana egter nie ʼn dogter nie. Na verwagting sal talle mense weer voor die hof betoog soos tydens sy vorige hofverskynings.