Canes troef Cheetahs in Bloem

Nie eens ‘n laat terugvegpoging kon keer dat die die Nieu-Seelandse Hurricanes ‘n onverwagse wen oor die Cheetahs in Bloemfontein behaal nie.

Die eindtelling was 39-34 met die halftydtelling wat 12 elk was.

Die Cheetahs het verlede week ‘n loslootjie gehad en te oordeel aan hul flouerige vertoning was dit meer ‘n vloek as ‘n seën. Hulle het gesukkel om die aanvalsroes af te skud, baie hanteerfoute begaan, baie duikslae gemis en besit afgestaan.

Nietemin het die Blikore groot veggees getoon en veral die stut Coenie Oosthuizen was verwoestend met sy kraglopies, waardeur hy twee pragdrieë gedruk het. Hulle het ook ten minste ‘n bonuspunt verdien.

Die Canes het voorgekom soos ‘n span wat sy huiswerk tydens die week gaan doen het ná die loesing wat die Bulls hulle laas week op Loftus Versfeld gegee het. Hulle het doelgerig aangeval en is met ‘n bonuspunt vir hul vier drieë beloon.

As Burton Francis egter sy skopskoene afgestof het, kon die Cheetahs beslis as oorwinnaars van die veld af gestap het. Hy het twee vroeë strafdoele verbrou vroeg in die eerste helfte, maar het daarvoor vergoed deur sy losskakel-opponent Beauden Barrett se vier strafdoele in die eerste 40 minute te ewenaar.

Barrett het die eerste drie van die wedstryd met tien minute verstreke in die tweede helfte gedruk. Daarna het die spel losser geraak en die Canes se selfvertroue het gegroei. Die blitsige Julian Savea, TJ Perenara en die waarnemende kaptein, Victor Vito, het elkeen vyf punte vir hul span bygevoeg.

Oosthuizen se drieë het gewys hoe sterk hy werklik is en telkens kon nie eens drie verdedigers hom keer om te druk nie. Robert Ebersohn het die laast drie van die wedstryd gedruk waarna Elgar Watts met ‘n strafdoel kort voor die eindfluitjie geslaag het om sy span ‘n troospunt te besorg.

Die Cheetahs het nie tyd om hul wonde te lek nie want hulle kom volgende week te staan teen die Reds. Maar dis ‘n nuwe wedstryd en hulle sal beslis ‘n nuwe ingesteldheid aan die dag lê vir hierdie groot uitdaging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.