Canes waai Kings weg in Wellington

Vaskopstut Ben May

Die Hurricanes het vanoggend volpunte op die Super15-rangleer ontvang toe hulle die Southern Kings 46-30 in die Wespac-stadion in Wellington geklop het.

Die halftydtelling was 29-16.

Die Kings het egter volpunte vir veggees gekry nadat hulle geweier het om die sterbelaaide gashere toe te laat om oorgerus te raak. Hulle het ook besef dat hul sterkpunt, te wete hul verdediging, nog veel te wense oorlaat.

Die Canes het reeds in die derde minuut die telbord laat beweeg met die vaskopstut Ben May wat sy eerste Superrugby-drie gedruk het ná ‘n kraglopie en swak lakwerk deur die Kings. Beauden Barrett het geslaag met die doelskop en in die tiende minuut die voorsprong laat rek met ‘n strafskop.

Daarna het die Kings teruggeslaan toe die slot Steven Sykes in die 16de minuut soos ‘n wafferse skrumskakel vanaf ‘n losgemaal naby die Canes se doellyn deurgedraf het om onder die pale te gaan kuier. Demetri Catrakilis het die doelskop met gemak deur die pale gejaag.

Die Canes het byna oombliklik vir hul swak verdeging vergoed toe die Canes se kaptein en veteraan All Black-senter, Conrad Smith, ná volgehoue druk en ‘n lang aangee in die Kings se hoekie oorgegaan het vir ‘n drie. Barrett het weer eens geslaag met die doelskop.

Twee opeenvolgende geslaagde strafskoppe deur Catrakilis het egter die besoekers in die prentjie gehou.

Die Canes se buksie-skrumskakel, TJ Perenara, het ná sowat ‘n halfuur vanaf ‘n losskrum vir sy span se derde drie deurgeglip.

Nadat Catrakilis raak gekorrel het met nog ‘n strafskop het die Canes se reuse-slot Jeremy Thrush kort voor rustyd die bonuspuntdrie gedruk met ‘n klompie Kings-spelers wat vergeefs probeer keer het.

Die Kings het die bordjies in die tweede helfte verhang en die buitesenter, Ronnie Cooke, het in die hoek gaan druk ná puik aanvallende spel en balverspreiding. Met Catrakilis se skopvoet wat nie teleurgestel het nie, was die telling op daardie stadium van die wedstryd slegs 29-23 en daar was senuagtige gesigte in die skare en die Canes se afrigtingslosie.

Die Suid-Afrikaners het die momentum behou en die Canes was op die agtervoet totdat Brad Shields die Nieu-Seelanders se eerste punte van die tweede helfte in die 65ste minuut met ‘n drie aangeteken het.

Daarna was dit eenrigting-verkeer met ‘n strafskop deur Barrett en ‘n onderskepdrie deur die Canes se regtervleuel, Alapati Leiua, wat die uitslag verseël het.

Die Kings se plaasvervanger-haker, Hannes Franklin, het egter vyf minute voor die eindfluitjie naby die Canes se doellyn deur die verdedigers gebars om die laaste drie van die wedstryd te druk. George Whitehead het die ekstra twee punte bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.