Cape Epic-wenners

Algehele wenners Jaroslav Kulhavy en Christoph Sauser van die Burry Stander-Songo-span. Foto: Karin Schermbrucker/Cape Epic/SPORTZPICS/SAPA

Christoph Sauser, die verdedigende kampioen en Jaroslav Kulhavy, Olimpiese kampioen, het Sondag gesamentlik as die Burry Stander-Songo-span die 10de Absa Cape Epic-fietsrywedren gewen.

Sondag se finale fase het van Stellenbosch na die Lourensford-landgoed gestrek. Sauser, wat twee vorige Epic-wedrenne saam met spanlid Burry Stander gewen het, het gesê dit is sy “spesiaalste wen nog”. Stander is in Januarie tydens ‘n oefenrit doodgery. Klik hier om meer te lees.

Vir Sauser was dit die eerste keer wat hy van agter af moes inhaal. Hy sê Stander se gesin en die kinders van die Songo-liefdadigheidsorganisasie het hom inspireer. “In elke vorige wedren wat ek gewen het, het ek op dag een al die geeltrui ontvang, en dit regdeur behou,” het Sauser gesê. “Maar hierdie keer was dit moeilik. Ons was op die derde been nege minute agter. Ons het nie meer vir die Epic gery nie; ons het vir Burry se gesin en al die kinders wat vir ons briefies ter ondersteuning gestuur het, gery. Ons moes deurdruk.”

Jaroslav, wat saam met Stander vir Team Specialized gery het, onthou hoe Sauser hom ná Burry se afsterwe gekontak het. “Hy het ‘n brief aan my geskryf en gesê: ‘Kom ons wen die Cape Epic vir Burry’. Ek kon nie weier nie,” vertel Jaroslav.

Hulle was ‘n formidabele span, met Kulhavy wat veral sterk is op die plat terrein en Sauser wat sy spanmaat teen die berge uit getrek het. Hulle het die dag met ‘n voorsprong van 6min 21sek begin en wou nie enige kanse vat nie. Hul naaste teenstanders, die Bulls1-span van Karl Platt en Urs Huber, het egter in hul eie woorde “nie meer enige koeëls oorgehad nie”.

Die Suid-Afrikaanse span, Philip Buys, wat in die laaste Olimpiese Spele saam met Stander deelgeneem het, en Matthys Beukes (Scott Factory Racing) moes in dié been teen die Multivan Merida-span [voormalige wêreldkampioen Jose Hermida en Rudi van Houts] meeding. “Ons het goed en sterk gevoel, en besluit om alles in te sit. Ons was verras om te sien ons is op ons eie teen Merida,” het Buys gesê. Die Suid-Afrikaner het weggebreek en die voorsprong op die 9km-klim teen Helderberg uit verder gerek en toe teen Merida na die eindstreep, op ‘n vinnige, maar tegniese 25km-afdraende gejaag. Buys kon die voorsprong kry in die laaste 100m, maar Beukes is afgesny en hulle kon nie die fase wen nie. “Dis wonderlik. Ons het twee keer op die podium beland en uiteindelik in die Top 10 geëindig. Ons is baie gelukkig,” het Buys gesê. Hulle het ook die Burry Stander-gedenktrofee ontvang. Hulle is waardige wenners, ondanks die feit dat hul naaste teenstanders, Darren Lill en Charles Keey (Cannondale Blend) deur siekte geteister is. Die Cannondale-span het op die vierde been ‘n voorsprong van 15 minute gehad toe Lill deur ‘n maagvirus, wat talle deelnemers aangetas het, platgetrek het.

Yolande Speedy, ook ‘n Suid-Afrikaner, wat Saterdag ‘n skouerbesering opgedoen het toe sy geval het, het dapper aanhou veg en uiteindelik die vyfde plek in die fase behaal. Sy en haar Engelse spanmaat, Catherine Williamson (Energas) het egter genoeg van ‘n voorsprong gehad om die vroue kategorie met 1uur 34 minute te wen.

Die Absa Cape Epic is ‘n tweepersoon-span jaarlikse bergfietsrywedren wat in die Wes-Kaap aangebied word. Spanne moet die hele pad saamry en vir mekaar en hul toerusting sorg. Die wedren lok die beste fietsryers van regoor die wêreld, maar amateurs kan ook deelneem. Die wedren is al as die “Tour de France” van bergfietsry beskryf.

Vanjaar se roete, wat van 17 tot 24 Maart 2013 gestrek het, het 698km gedek met ‘n klim van 15 650m vanaf Meerendal-landgoed in Durbanville tot Lourensford-landgoed in Somerset-Wes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.