Carl Pistorius in die hof

Carl Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Carl Pistorius, Oscar se broer, het Woensdag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn ná ‘n ongeluk in 2008 waarin ‘n motorfietsryer gesterf het.

Pistorius se prokureur, Kenny Oldwage, het aan die hof gesê dat die weergawe van die staat se eerste getuie nie die ware verloop van gebeure van die Maart 2008-ongeluk is nie. Anton Coetzee, staatsgetuie, is tans onder kruisverhoor. Coetzee was ‘n ooggetuie toe Maria Barnard se motorfiets in Rivierweg in Vanderbijlpark Pistorius se bakkie getref het.

Oldwage het Pistorius se weergawe van die ongeluk voorgehou en gesê Pistorius sal getuig dat hy langs ‘n Volkswagen Fox gery het toe hy ‘n klank onder sy motor gehoor het. Hy het toe gesien ‘n motorfiets is in die lug en regs van sy bakkie. Pistorius sal ook getuig dat hy rem getrap en sy voertuig “veilig” tot stilstand gebring het. “My kliënt ontken ten sterkste dat hy in ‘n roekelose of nalatige wyse bestuur het,” het Oldwage gesê.

Oldwage het bygevoeg dat die bestuurder van die Volkswagen Fox ook sal getuig dat Barnard teen ‘n hoë spoed gery het.

Pistorius word van strafbare manslag aangekla met roekelose en nalatige bestuur en ook dat hy sonder ‘n redelike inagneming van ‘n ander padgebruiker gery het.

Coetzee het erken dat, aangesien Barnard se valhelm nog by die ongelukstoneel op haar kop was, hy nie alkohol op haar asem kon ruik nie. Hy het bygevoeg dat sy nie voor hom alkohol gebruik het nie en dat hy nie weet teen watter spoed sy gery het nie.

Coetzee het glo ook ná die ongeluk ‘n boodskap van medelye op ‘n webwerf, “Dead men riding”, publiseer waarin hy na haar as “geliefde Marietjie” verwys het. Die hof het gehoor dat hulle vriende was.

Coetzee het vroeër gesê dat Barnard “niks kon doen om die ongeluk te vermy nie”. Hy het gesê Pistorius het “vinnig uitgeswaai”.

Oldwage voer egter aan die remmerke van die motorfiets was 18.3m lank en dit dui aan dat Barnard wel probeer het om te rem. Volgens Oldwage is dit teenstrydig met Coetzee se weergawe dat die ongeluk “te vinnig” gebeur het en dat daar “niks was” wat Barnard kon doen nie.

Oldwage het Woensdagmiddag sy kruisverhoor van Coetzee afgesluit.

Landdros Buks du Plessis het die saak tot 25 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.