Carl Pistorius: Polisieman sê foto’s, maatband is verkeerd

Carl Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA

Getuienis deur ‘n polisiebeampte tydens die strafbare manslagsaak van Carl Pistorius, is Donderdag in die Vanderbijlparkse landdroshof bevraagteken.

“Die mates wat jy aan die hof verskaf het, was verkeerd, konstabel,” het Kenny Oldwage, prokureur vir Pistorius, aan konstabel Robert Raphadu gesê. Raphadu het die ongelukstoneel in 2008 besoek waar Maria Barnard se motorfiets Pistorius se bakkie getref het. Sy is ‘n paar dae later in die hospitaal oorlede.

Pistorius, die broer van Paralimpiese atleet Oscar, staan tereg op ‘n aanklag van strafbare manslag.

Tydens kruisverhoor het Oldwage Raphadu se skets van die ongelukstoneel bevraagteken. Hy sê die afstande en mates is verkeerd. Die skets het ook nie ‘n datum op nie, die nommerplaat van die motorfiets is nie neergeskryf nie en geen foto’s is by die toneel geneem nie. Die konflik oor die mates het landdros Buks du Plessis genoop om ‘n inspeksie by die ongelukstoneel te reël. Die media is nie toegelaat word om foto’s by dié geleentheid te neem nie. “Ek versoek die media om die feit dat die hof steeds daar in sitting sal wees, te respekteer,” het Du Plessis gesê.

Ná die inspeksie, wat sowat ‘n uur lank geduur het, het Oldwage die ooglopende verskille tussen Raphadu se mates en dié wat tydens die inspeksie geneem is, uitgewys. Hy het dit aan Raphadu gestel dat hy die afstand van ‘n sekere punt, ‘n paal, tot die punt van impak as 14m aangedui het. Die inspeksie het egter getoon dat dit bykans 17m is. “Op die gegewe dag het jy nie eers ‘n maatband gehad nie. Jy het probeer om sekere afstande te treë,” het Oldwage gesê. Raphadu het dit ontken. “Ons het ‘n maatband gehad. Ons het ‘n maatband gebruik. Elke polisiemotor het een,” het Raphadu gesê. Oldwage het aangevoer dat Raphadu die hof mislei, aangesien daar geen verduideliking vir sy dade is nie. “My reaksie is dat ek ‘n maatband gebruik het. Dit het my daardie getal gegee. Dit is al wat ek kan sê,” het Raphadu bygevoeg.

Toe Raphadu gedruk is om dan te verduidelik waarom die afstand so vreeslik kan verskil, het Raphadu gesê: “Hulle is veronderstel om te verskil, want jy gebruik nie die maatband wat ek gebruik het nie.”

Raphadu het vroeër getuig dat Barnard steeds gelewe het toe hy op 8 Maart 2008 by die ongelukstoneel aangekom het. “Ek het met die ongelukslagoffer probeer praat, ek was naby aan haar. Ek het nie alkohol geruik nie.”

Oldwage het Raphadu uitgevra oor die lengte van die maatband wat hy op die dag van die ongeluk gebruik het. “Ek is nie seker oor die lengte van die maatband self nie, maar dit was langer as die afstande wat ons gemeet het,” het hy geantwoord.

Oldwage het verskeie foto’s, wat later daardie dag by die ongelukstoneel geneem is, aan Raphadu voorgehou. Raphadu het ingestem dat daar verskille is tussen die foto’s en die sketse van die toneel. “Daardie een lyk nie soos myne nie,” het hy gesê. Op die vraag waarom daar verskille tussen die sketse en die foto’s is, het Raphadu gesê: “Ek was fisies daar en jy het later gekom. Dis hoekom jou foto verkeerd is.”

Raphadu het ook gesê ‘n ander foto is verkeerd. “Volgens my is dit ‘n leuen.” Hy sê die posisie van die remmerke in die foto is nie hoe hy dit daardie dag van die ongeluk gesien het nie.

Pistorius se suster Aimee en sy pa, Henke, was regdeur die dag in die hof.

Die saak is tot 21 Mei uitgestel.

Lees ook:
Carl Pistorius in die hof
Carl Pistorius-saak: Motorfietsryer was moontlik onder die invloed
Oscar se broer in hof
Oscar se broer het ‘diep berou’ oor ongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Toe Raphadu gedruk is om dan te verduidelik waarom die afstand so vreeslik kan verskil, het Raphadu gesê: “Hulle is veronderstel om te verskil, want jy gebruik nie die maatband wat ek gebruik het nie.”

Eina…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.