Carl Pistorius-saak: Motorfietsryer was moontlik onder invloed

Carl Pistorius tydens ‘n breek in die verhoor Foto: Werner Beukes/SAPA

‘n Motorfietsryer het glo te vinnig gery toe sy in Carl Pistorius, die atleet Oscar se broer, se bakkie vasgejaag het, het die landdroshof in Vanderbijlpark Woensdag gehoor.

Kenny Oldwage, vir Pistorius, het dit aan motorfietsryer Anton Coetzee gestel dat Maria Barnard teen 147km/h in ‘n 100km/h-sone gery het toe sy op 8 Maart 2008 agter in Pistorius vasgejaag het. “Ek kan dit nie glo nie,” het Coetzee geantwoord.

Volgens Oldwage sal ‘n ongelukstoneeldeskundige hieroor getuig.

Die hof het gehoor dat die ongeluk in ‘n semi-landelike gebied plaasgevind het en dat daar gereeld diere op die pad voorkom. Coetzee het vroeër oor die ongeluk getuig. “Die motorfiets was baie naby aan die agterkant van die bakkie toe die bakkie skielik na regs uitgeswaai het,” het Coetzee gesê. “Die motorfiets het die bakkie regs agter getref. Dit het gelyk of die bakkie vir iets op die pad uitgeswaai het. Ek moes rem om die ongeluk te vermy.”

Coetzee sê hy en ander motorfietsryers het op die dag van die ongeluk aan ‘n “Poker-run” deelgeneem. Hy het gesê dit het gelyk of Barnard niks kon doen om te verhoed dat sy die bakkie tref nie. Sy is glo tussen 5 en 10 meter vorentoe geslinger.

Oldwage sê Pistorius sal getuig dat hy ‘n ander voertuig wou verbysteek toe die ongeluk plaasgevind het.

Tydens kruisverhoor is dit bekendgemaak dat alkohol aan die motorfietsryers beskikbaar gestel is. Coetzee was glo nie bewus van motorfietsryers wat “onder die invloed van alkohol was en aggressief opgetree het” nie. “Twee staatsgetuies het bevestig dat daar hulle ‘n sterk alkohol-reuk op Barnard se asem kon ruik,” het Oldwage gesê. Coetzee kon egter nie sê of Barnard alkohol gebruik het of nie. “Sy het nie in my teenwoordigheid alkohol verbruik nie,” het hy gesê. Coetzee het wel erken dat Barnard soms ‘n enkel whiskey geniet het.

Oldwage het verder aangevoer dat Barnard se dogter in hofdokumente aangedui het dat haar ma soms rooi wyn en whiskey gedrink het, en dat sy anti-depressantmedikasie geneem het.

Coetzee het gesê Pistorius het ná die ongeluk die voertuig gestop, uitgeklim en ‘n telefoonoproep gemaak.

Coetzee sê Barnard se linkerarm se vel was afgeskraap, haar hand was agtertoe gebuig en dit het gelyk of haar been gebreek is. Sy het op 14 Maart 2008 in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Pistorius het na ete onskuldig gepleit op ‘n aanklag van strafbare manslag en twee alternatiewe aanklagte. Staatsaanklaer Johan Venter het aan die hof gesê die eerste alternatiewe klag is roekelose of nalatige bestuur en die tweede klag is bestuur sonder redelike oorweging vir ‘n ander padgebruiker.

Landdros Buks du Plessis het Woensdagoggend twee aansoeke aangehoor: een van die SAUK om die hofsaak uit te saai en ‘n tweede aansoek van die staat om nuwe forensiese deskundiges in te bring. Du Plessis het bevind dat die SAUK se aansoek ongeldig is. Die SAUK het aangevoer die saak is in publieke belang en dat Pistorius ‘n hoëprofiel-persoonlikheid is. “Die enigste rede hoekom die media in dié saak belangstel, is omdat mnr. Carl Pistorius die atleet se broer is,” het hy gesê voordat hy die aansoek van die hand gewys het.

In die tweede aansoek het Venter gesê die Staat beplan om nuwe getuies te roep, maar hy is nog nie seker wie nie. Oldwage sê die staat se benadering is “verhoor deur ‘n hinderlaag”.

Die Pistorius-gesin en vriende het in die publieke gallery gesit. Volgens Verster was nie een van Barnard se familielede in die hof nie.

Die saak is tot 3 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.