Carl Pistorius vandag weer in hof

Carl Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die strafbare manslag verhoor van Carl Pistorius, Oscar se broer, hervat Woensdag in die Vanderbijlpark-landdroshof.

Pistorius was op 8 Maart 2008 in ʼn ongeluk betrokke wat tot die dood van ‘n motorfietsryer, Maria Barnard, gelei het. Sy was op ʼn motorfiets wat teen die agterkant van Carl se bakkie gebots het.

In die vorige hofverskyning verlede week het die staatsgetuie, Anton Coetzee, aangevoer dat die ongeluk in ‘n semi-landelike gebied plaasgevind het en dat daar gereeld diere op die pad voorkom. Coetzee het oor die ongeluk getuig. “Die motorfiets was baie naby aan die agterkant van die bakkie toe die bakkie skielik na regs uitgeswaai het,” het Coetzee gesê. “Die motorfiets het die bakkie regs agter getref. Dit het gelyk of die bakkie vir iets op die pad uitgeswaai het. Ek moes rem om die ongeluk te vermy,” het hy gesê.

Coetzee het gesê hy en ander motorfietsryers het op die dag van die ongeluk aan ‘n “Poker-run” deelgeneem. Hy het gesê dit het gelyk of Barnard niks kon doen om te verhoed dat sy die bakkie tref nie. Sy is glo tussen 5 en 10 meter vorentoe geslinger.

Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het aan Coetzee gestel dat Barnard teen 147km/h in ‘n 100km/h-sone gery het. Volgens Oldwage sal ‘n ongelukstoneeldeskundige hieroor getuig. Tydens kruisverhoor is dit ook bekendgemaak dat alkohol aan die motorfietsryers beskikbaar gestel is.

Oldwage het ook gesê Pistorius sal getuig dat hy ‘n ander voertuig wou verbysteek toe die ongeluk plaasgevind het. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.