Casino-bedrieër gevonnis

‘n Vrou is Vrydag deur die Durbanse streekshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en diefstal.

Nancy Shanelle Naidoo het op 29 aanklagte, wat bedrog, roof en uitbuiting insluit, skuldig gepleit. Sy het die kontant en juwele van klante by ‘n casino en mense se huise gesteel terwyl sy geluksrituele uitgevoer het. Klik hier om meer te lees.

In ‘n verklaring wat haar prokureur Hycenth Mlotshwa gelees het, het Naidoo erken dat sy bejaarde mense bedwelm en toe hulle kontant en juwele gesteel het. “Ek het die onderskeie aanklaers op die klagstaat by hul huise besoek en gesê ek is ‘n verpleegster by Addington-hospitaal en dat ek gekwalifiseer is om medikasie uit te deel,” het sy gesê. “Ek het hulle dan met medikasie bedwelm en terwyl hulle onder verdowing was het ek hulle juwele, kontant en ander items gesteel.”

Twee van haar slagoffers het in die hospitaal beland weens die bedwelming.

Een vrou is van juwele ter waarde van R700 000 beroof. Sy het die vrou oortuig dat sy ‘n reinigingseremonie vir haar seun en kleindogter kan uitvoer, aangesien hulle lewens glo in gevaar was. Die vrou se dogter is in ‘n motorongeluk dood en Naidoo het die vrou oorreed om haar juwele te oorhandig sodat sy van die “slegte geluk” ontslae kon raak. Sy het ook ‘n betaling van R118 000 van dieselfde vrou ontvang.

Naidoo het erken dat sy haar slagoffers oorreed het om hulle juwele vir haar te gee sodat sy vir hulle vir “goeie geluk” kan bid. “Terwyl hulle met iets besig was en hul aandag afgetrek is, het ek die juwele en items, soos wat in die klagstaat beskryf word, gesteel.”

Sy het die misdade tussen 2007 en 2012 gepleeg en sowat R3.5 miljoen se kontant, juwele en waardevolle items gesteel.

Lees ook:
‘Bedrieër’ by casino vasgetrek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.