‘Casino-bende’ glo aangerand

Foto: @ewnreporter/Twitter

Sewe van die tien mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Emperors Casino probeer beroof het, is glo deur polisiebeamptes aangerand.

Een van die beskuldigdes wat glo aangerand is, is glo deur die polisie aangesê om sy bebloede klere te was, het sy prokureur Rudi Krause Dinsdag aan die Kempton Parkse landdroshof gesê. “Een van die beskuldigdes het nie sy klere gewas nie en kan wys waar hy beseer is,” het Krause gesê. Die man het sy baadjie uitgetrek om aan die hof te wys waar sy hemp ‘n bloedvlek op sy skouer het.

“Die ondersoekbeamptes het hulle gedwing om getuienis te gee wat hulle inkrimineer,” het Krause gesê. ‘n Ander verdagte wat ook beweer dat hy aangerand is, word moontlik verbind aan ‘n ander rooftog wat Donderdag in die landdroshof in Germiston aangehoor sal word. Hy is Maandag aangekla vir sy rol in die ander rooftog terwyl hy in polisieaanhouding was.

Krause sê die man beweer hy is uit die polisiestasie na ‘n ander gebou geneem waar hy glo aangerand is. Die ondersoekspan in die ander rooftog het versoek dat hy na die Brixton-polisiestasie geskuif moet word om hom voor te berei vir sy verskyning Donderdag in die Germiston-hof. Dit is nie duidelik by watter polisiestasie die tien beskuldigdes aanvanklik aangehou is nie.

Staatsaanklaer Ninette Lambden het die aanrandingsklagtes verwerp en gesê die hof moet in gedagte hou dat ‘n skietgeveg uitgebreek het voordat die mans Sondag in hegtenis geneem is. Lambden sê die mans kon die beserings tydens die voorval opgedoen het.

Landdros Prince Manyathi het gesê al die mans moet by die selle by Brixton-polisiestasie aangehou word tot hul volgende hofverskyning. Hy het beveel dat die mans elk ‘n mediese ondersoek moet ondergaan sodat die hof hul huidige beserings kan bepaal en vasstel of hulle enige ander beserings opgedoen het.

Manyathi sê die man wat in die aparte saak beskuldig word moet nie sonder sy prokureur se teenwoordigheid met die polisie praat nie.

Die mans se saak is tot 6 Mei uitgestel wanneer drie van die verdagtes na verwagting regsverteenwoordiging sou kon reël.

Die hof het bepaal dat die mans nie uitgeken of hul gesigte in die media publiseer mag word nie. Lambden sê dit kan die ander saak beïnvloed waarin die een man verdink word. ‘n Uitkenparade kan ook moontlik nog gereël word.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê 15 mans is aanvanklik vir die mislukte rooftog Sondag by die casino in hegtenis geneem, maar drie is later vrygelaat. “Ons het bevind dat die drie mans nie deel was van die bende wat die casino probeer beroof het nie, en hulle was bloot daar om persoonlike redes.”

Twee van die oorblywende 12 verdagtes is steeds in die hospitaal nadat hulle tydens die skietgeveg met die polisie beseer is. “Hulle sterk aan by Tembisa-hospitaal,” het Dlamini gesê.

Die polisie het ‘n wenk ontvang dat ‘n bende beplan om die casino te beroof. Die polisie het die mans by die casino se ingang voorgekeer en ‘n skietgeveg het uitgebreek. ‘n Vyfjarige dogtertjie is tydens die skietgeveg beseer.

Die 12 mans staar aanklagte van sameswering om ‘n rooftog uit te voer, poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en besit van vermoedelik gesteelde voertuie in die gesig.

Lees ook:
Emperors Palace-dogtertjie sterk aan
Vyftien vas ná mislukte rooftog
Foto’s: Vyfjarige gewond in rooftog by Emperors Palace
Rooftog by Emperors Palace

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

mina ·

NEE KYK HULLE IS MISDADEGERS MAAR NOU MOET HUL EERS GEPAAI WORD MOES HULLE EERS PAAR ONSKULDIGE MENSE DOODSKIET EN NOG WEGKOM OOK

Skepties ·

Net vir die besering wat daai onskuldige kind opgedoen het, sou ek die “thumbs-up” gee het vir aanranding ! hulle verdien niks minder nie ! Dit kon soveel erger gewees het !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.