CDP maan teen Madiba-euforie

Nelson Mandela Foto: GCIS

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het Vrydag met kommer reageer op die omvang van mensverheerliking wat met oud-president Nelson Mandela se verjaarsdag gepaard gegaan het.

Mandela het Woensdag 94 jaar oud geword en sy verjaarsdag is met welwillendheidsdade regoor die land gevier. Die dag staan ook bekend as Madibadag en die presidensie poog om dié dag as ʼn nasionale vakansiedag te verklaar.

“Uiteindelik hou die Madiba-euforie gevaar in dat die kloof tussen hulle wat ʼn minder romantiese beeld van Mandela het, en hulle wat net die wonderlike raaksien en opblaas, kan verdiep. Uit baie van die internet-kommentare was dit duidelik dat hierdie ongekende vlak van mensverheerliking by baie Suid-Afrikaners wie se Christelike tradisie nederigheid en beskeidenheid as bate stel, ʼn swak smaak gelaat het,” het Linda Pretorius, woordvoerder van die CDP, gesê.

“Een koerant het in sy hoofartikel selfs geskryf dat die gees van welwillendheid wat ervaar word, aan Kersfees herinner. Die CDP streef daarna dat welwillendheid in Suid-Afrika om Christelike waardes gebou word waar die mens minder, en die Here meer word,” het sy bygevoeg. “Wat nou gebeur het, is ʼn euforie wat herinner aan die mites wat om die vorige Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-il, gebou is, soos dat wonderwerke gebeur het so ver soos hy gereis het. Met die omvang wat die euforie nou aangeneem het, word Mandela se nalatenskap eerder geskaad as bevorder,” het Pretorius gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.