Cele dalk geskors oor polisie-huurkontrakte

Die nasionale polisiehoof, Bheki Cele. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het te kenne gegee dat hy dit oorweeg om die nasionale polisiehoof, genl. Bheki Cele, te skors rakende die uitkoms van die ondersoek na twee polisie huurkontrakte.

Zuma se woordvoerder, Mac Maharaja, sê Cele is einde verlede maand van die ondersoek in kennis gestel. Cele het reeds ʼn voorlegging aan Zuma ingedien en laasgenoemde is besig om te oorweeg of Cele geskors gaan word. Die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het reeds in Februarie vanjaar bevind dat Cele onregmatig en onwettig opgetree het rakende ʼn huurooreenkoms van R500 miljoen vir die polisie se nuwe hoofkantoor in Pretoria. In Julie vanjaar het sy vir ʼn tweede keer gevind dat Cele onregmatig en onwettig opgetree het rakende ʼn huurooreenkoms van R1,17 miljard vir die polisie se provinsiale hoofkantoor in Durban. Madonsela het bevind die huurooreenkomste met die sakeman, Roux Shabangu, onwettig en ongeldig is aangesien die korrekte tenderprosedures nie gevolg is nie. Die minister van openbare werke, Gwen Mahlangu-Nkabinde, is ook deur Madonsela by die verslag betrek. Mahlangu-Nkabinde het vroeër die week aangekondig dat sy ʼn aansoek voor die Noord-Gautengse hooggeregshof gebring het om die huurkontrakte ongeldig te verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.