Cele geskors, twee ministers deur Zuma afgedank

Die nasionale polisiehoof, Bheki Cele, is deur president Jacob Zuma afgedank. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Maandag tydens ʼn spesiale mediakonferensie aangekondig dat die nasionale polisiehoof, Bheki Cele, geskors is.

Zuma het ook tydens die geleentheid talle veranderinge aan sy kabinet aangekondig. Die adjunk-minister van landelike ontwikkeling, Thulas Nxesi, is aangestel as die nuwe minister van openbare werke. Die vorige minister van openbare werke, Gwen Mahlangu-Nkabinde, is saam met Cele in omstredenheid gedompel nadat die openbare beskermer bevind het dat hulle omregmatig en onwettig opgetree het rakende twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban. Mahlangu-Nkabinde het in November 2009 die leisels by Geoff Doidge as minister oorgeneem. Zuma se Cele is geskors hangende die uitkoms van’n ondersoek na sy optrede. Hy sê Cele sal steeds sy salaris en ander voordele ontvang hangende die uitkoms van die ondersoek. Zuma het ook die minister van plaaslike regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka, afgedank. Hy word deur die huidige minister van staatsdiens en administrasie, Richard Baloyi, vervang. Die huidige minister van kommunikasie, Roy Padayachie, vervang Baloyi. Shiceka is deur die openbare beskermer skuldig bevind aan wanadministrasie nadat hy openbare fondse misbruik het. Volgens die verslag het Shiceka, Zuma moedswillig om die bos gelei rakende ʼn besoek aan Switserland aangesien hy nie vir werkdoeleindes gegaan het nie maar om sy vriendin te besoek wat daar in die tronk is. Shiceka is sedert Februarie met siekteverlof.

Dina Pule, huidige adjunk-minister in die presidensie is aangestel as die nuwe minister van kommunikasie. Die adjunk-minister van kommunikasie, Obed Bapela, is aangestel as ‘n minister in die presidensie. Die ANC-LP Thembisa Stella Ndabeni sal oorneem as die adjunk-minister van kommunikasie. Die adjunk minister van openbare werke, Hendrietta Nogopane-Zulu, is aangestel as die adjunk-minister vir vroue, kinders en gestremdes. Lechesa Tsenoli is aangestel as die adjunk-minister van landelike ontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.