Cell C-afleggings: Vakbond dreig met regsaksie

Die vakbond Solidariteit dreig om ʼn dringende hofinterdik te bekom indien Cell C nie sy afleggingsproses staak nie. Die vakbond het dié eis in ʼn brief aan die maatskappy vervat en gesê hy sal met regsaksie voortgaan indien Cell C nie teen die einde van Woensdag op die brief reageer nie. Solidariteit is daarvan oortuig dat Cell C nie die korrekte prosedures vir die afleggings volg nie en die proses deur middel van intimidasie probeer deurdryf.

Cell C beplan om ongeveer 150 van sy totale werksmag van 1 288 werknemers af te lê as deel van ’n herstruktureringsprogram om die maatskappy se doeltreffendheid te verbeter. Solidariteit het verlede week bekendgemaak dat ’n werknemer van Cell C, wat ’n lid van die vakbond was, selfmoord gepleeg het nadat hy ’n kennisgewing ontvang het dat hy moontlik afgelê gaan word.

Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, volg Cell C nie die korrekte prosedure soos in artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge vereis word nie. Hiervolgens moet ʼn konsultasieproses met belanghebbende partye en vakbonde gevolg word. “Cell C onderskei tussen vakbondlede en ander werknemers, en gebruik boelietaktiek om werknemers te dwing om tot die afleggings in te stem. Die maatskappy bied aan werknemers wat nie tot vakbonde behoort nie die opsie om voor Maandag ʼn gunstiger skeidingspakket te aanvaar.”

Intussen het Cell C in die media aangevoer dat Solidariteit nie ʼn lys van vakbondlede wat by die maatskappy werksaam is, voorgelê het nie. Solidariteit beklemtoon egter dat dié lys wel teen die spertyd aan die maatskappy verskaf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.