Cell C kla oor kompetisie

cell cCell C het ‘n klag ingedien teen MTN en Vodacom vir anti-mededingende gedrag.

Die klag is Dinsdag by die Mededingingskommissie ingedien en hou verband met die koste wat dié twee netwerke van hul klante eis indien hul ander netwerke skakel. Volgens Cell C het dié pryse ‘n “dramatiese en direkte” impak op kleiner netwerke se vermoë om nuwe klante aan te skaf. “Die twee dominante netwerke bied ‘n noemenswaardige afslag aan op hul netwerktariewe terwyl hulle ‘n premie laai vir hul eie klante om mense op ander netwerke te skakel,” het Alan Knott-Craig, hoof uitvoerende beampte van Cell C, gesê. “Dit is ‘n diskriminerende prysstruktuur en is nie mededingend wanneer die groot netwerke dit toepas nie.”

Knott-Craig sê gebruikers is meestal nie daarvan bewus dat hulle gepenaliseer word wanneer hulle ander netwerke skakel nie. “Met nommeroordrag weet klante gewoonlik nie of hulle iemand op dieselfde netwerk of op ‘n ander netwerk skakel nie, en weet hulle nie watter tarief hulle betaal nie.”

Hy sê dominante selfoonnetwerke oorsee word swaar beboet indien hulle dieselfde praktyk toepas.

Trudi Makhaya, adjunk-kommissaris van die Mededingingskommissie, het bevestig dat hulle die klag ontvang het. “Ons moet die saak ondersoek,” het Makhaya gesê. “Ons sal eers ‘n voor-ondersoek fase afhandel waar ons die klag se meriete ondersoek. ‘n Voorstel word dan gemaak en dit is moontlik dat daar dan geen probleem kan wees nie. Indien daar ‘n probleem is, sal ons sê watter gedeeltes van die Wet oortree is en wat die boetes is.”

Volgens Makhaya kan maatskappye versoek word om die betrokke gedrag te staak, regstellings te maak om aan die Wet te voldoen, of vereis word om ‘n boete van tot 10% van hul bruto inkomste vir die jaar vóór die klag ingedien is, te betaal. Die ondersoek kan tussen sewe dae en drie maande lank duur om af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

InaT ·

wag ‘n biekie. Het Cell-C nie begin met die 10 vriende (op hulle netwerk) wat opreope amper verniet kry nie?? En hoekom kla hulle nie vir telkom/8-ta ook aan nie. Hulle doen dit ook!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.