Die vakbond Solidariteit het Donderdag bevestig dat ʼn werknemer van Cell C selfmoord gepleeg het nadat hy sy afleggingskennisgewing ontvang het.
Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê hy het met die gesin gesels. Hulle is van mening dat die man oorweldig gevoel het in die wete dat hy sy werk gaan verloor. Cell C het ontken dat die werknemer amptelik in kennis gestel is dat hy afgelê gaan word.
Ten minste 150 mense gaan moontlik hul werk by Cell C verloor, aangesien die maatskappy sy besigheid meer vaartbelyn wil maak. Croucamp sê afleggings is nie die manier hoe maatskappye sy werknemers moet hanteer nie. “Ons het ʼn afname in morele waardes in groot ondernemings gesien weens die manier waarop hulle hul werknemers hanteer.”