Ceres-krediethoof gevonnis

Ceres

Evan Craig Simrie, voormalige krediethoof by Ceres Fruit Juices in die Paarl is Dinsdag gevonnis nadat hy meer as R1.5 miljoen verduister het.

Simrie is Dinsdag in die Bellville gespesialiseerde kommersiële hof agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy R1 587 483 verduister het. Hy is op 16 aanklagte van bedrog en een van geldwassery gevonnis.

Hy het as ʼn klerk in die kredietafdeling van die maatskappy begin werk en is tot hoof van die departement bevorder. Hy het toegang gehad tot die maatskappy se elektroniese betaalstelsel.

Volgens landdros Sabrina Sonnenberg het Simrie die stelsel manipuleer om groot betalings na drie privaatrekeninge te kanaliseer. Een van dié rekeninge het aan sy oom behoort. Hy het aan sy oom gesê dat hy hope geld uit ʼn belegging met ʼn rykword-skema verdien en nie sy vrou van sy ekstra inkomste wou inlig nie.

Staatsaanklaer Derek Vogel het aan die hof gesê die maatskappy het in 2010 ʼn bedrag, wat aan ʼn debiteur uitbetaal is, identifiseer wat ondersoek moes word. “Dié ondersoek het Simrie se geldverduistering aan die lig gebring en dit is moontlik dat Simrie met sy bedrog sou voortgaan indien dié ondersoek nie plaasgevind het nie,” het Vogel gesê.

Sonnenberg sê witboordjiemisdaad is aan die toeneem en word gewoonlik deur mense, wat in vertrouensposisies staan, uitgevoer. Sy sê Simrie kwalifiseer vir die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir bedrog bó R500 000, maar dat daar omvattende en aangrypende omstandighede is wat ʼn ligter vonnis regverdig.

Sy het Hailey Lawrence, prokureur vir die verdediging, se voorstel dat Simrie ná 10 maande in aanmerking moet kom vir vrylating, as onvanpas verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.