Chana-ondersoek duur voort

Khuli Chana

Khuli Chana

ʼn Saak van poging tot moord teen die musikant Khuli Chana duur voort, het die Gautengse polisie Maandag gesê.

“Hy is nog nie aangekla nie. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie. Die direkteur van Openbare Vervolging sal besluit of hy aangekla gaan word of nie,” het brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, gesê.

ʼn Saak van poging tot moord teen Khulane Morule, beter bekend as Khuli Chana, is Vrydag aanhangig gemaak.

Die polisie sê hulle het kringtelevisiebeeldmateriaal bekom en verklarings afgeneem van getuies oor dit wat verlede week Maandag by die Caltex-vulstasie langs die N1-snelweg in Midrand plaasgevind het.

Malila sê die bewyse wat hulle ontvang het ondersteun die polisie op die toneel se weergawe van die gebeure dat, in plaas van om te stop, die bestuurder gepoog het om die polisiebeamptes, in uniform, om te ry wat probeer het om hom af te trek.

Chana is toe glo per ongeluk geskiet toe hulle sy luukse voertuig aangesien het vir die voertuig van vermeende ontvoerders na wie hulle op soek was.

Enoch Motsepe, ʼn speurder van Silverton in Pretoria, is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en het Woensdag in die Germiston-streekshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 11 November vir verdere ondersoek en ʼn formele aansoek om borgtog.

Motsepe is verlede Maandag in hegtenis geneem nadat hy die losprys van R100 000 by die vulstasie gaan oplaai het.

Chana se prokureur, Cliff Alexander, het sy kliënt verteenwoordig. “Of Khuli nou deur onbekende mense probeer aftrek is of nie, regverdig nog steeds nie die Suid-Afrikaanse Polisiediens om skote op hom te vuur nie,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Hulle [die polisie] het ongetwyfeld die grense, soos vervat in artikel 49 van die Strafproseswet, oorskry.”

Alexander sê nie hy of Chana is bewus van enige kringtelevisiebeeldmateriaal nie. “In hierdie stadium is ons nie daarvan bewus dat beeldmateriaal, buiten die vulstasie se beeldmateriaal, bestaan nie. Ons is nog nie die geleentheid gebied om enige kringtelevisiebeeldmateriaal te bestudeer nie, ondanks ons konstitusionele reg om dit te sien om sy [Chana] regte ten volle te beskerm.”

ʼn Saak van poging tot moord wat deur Chana aanhangig gemaak is, word deur die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) ondersoek.

Lees ook:
Ontvoeringsdrama: Musikant ook aangekla
Polisieman vas oor ontvoering
Musikant wou glo polisiemanne omry
Musikant-skietery: Beamptes vas; “ontvoerde” sakeman opgespoor
Polisie skiet op musikant

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.