Chanelle Henning-moord: Beskuldigde versoek rekenaar en uitstel

Chanelle Henning

Een van die mans wat van die moord op Chanelle Henning aangekla word, het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria versoek dat sy hofsaak uitgestel moet word.

André Gouws het die mandaat van sy regshulpprokureur, Van Zyl Nel, op 15 November beëindig, en het gesê hy het nie genoeg tyd om voor te berei nie. “Mens kan nie vir só groot saak nege dae voor die tyd voorberei nie,” het hy gesê.

Ambrose Monye, voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, en Gouws word daarvan beskuldig dat hulle Chanelle Henning vermoor het. Hulle staar aanklagte van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen in die gesig.

Henning is verlede jaar doodgeskiet toe sy in Manitobarylaan in Faerie Glen gery het. Sy het pas haar seuntjie by ʼn kleuterskool afgelaai.

Gouws versoek ook toegang tot ʼn rekenaar in sy sel. Hy sê die Staat het die openbaarmaking op ʼn DVD aan hom verskaf en hy het nie toegang tot ʼn rekenaar nie. “Ek kan myself nie vir die saak voorberei indien ek nie ʼn rekenaar in my sel het nie,” het Gouws gesê.

Staatsaanklaer Gerrie Nel beweer egter dat Gouws al genoeg tyd gehad het om voor te berei en dat uitstel die saak en ooggetuies sal benadeel. “Ons het kwesbare ooggetuies. Ons kan die saak nie bloot net uitstel nie,” het Nel gesê. Nel is ten gunste daarvan dat die saak Woensdag voortgaan om geleentheid te gun vir ʼn nuwe regspan wat aangestel moet word. “Die Staat is gereed om voort te gaan,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anita ·

Die saak moet voortgaan dat die regte beskuldigde kan gestarf word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.