Chanelle Henning-moord: Eks-Olimpiese atleet in hof

Ambrose Monye (links) en Preshan Singh na hulle verskyning in die Pretoria landdroshof. Foto: SAPA

ʼn Voormalige Nigeriese Olimpiese atleet, Ambrose Monye, en ʼn medebeskuldigde, Preshan Singh, het Donderdagoggend in die Pretoria landroshof verskyn in verband met die moord op Chanelle Henning.

Monye en Singh word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Monye is verlede week Dinsdag vrygespreek op aanklag van moord. Daar is bevind Monye het uit selfverdediging opgetree toe hy op 4 Julie 2009 Neville Olivier (48) doodgeslaan het tydens ʼn padwoede voorval. Olivier en Monye se motors het glo mekaar se pad versper. Olivier en nog drie mans wat saam met hom in die motor was, het glo uitgeklim en na Monye se motor gestap. Olivier het Monye glo verskeie kere gestamp. Monye het hom glo teruggestamp waarna hy geval het en op die toneel dood is. Monye en Singh het intussen Donderdag in die hof aangevoer hulle is aangerand tydens hulle in hegtenisname en dat hulle toegang tot ʼn dokter geweier is. Monye is glo betrokke by dwelmbedrywighede in Pretoria.

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Dit het intussen aan die lig gekom dat nog ʼn verdagte in verband met Henning se moord in hegtenis geneem is. Die polisie het Woensdag aangekondig dat vier verdagtes reeds in hegtenis geneem is waaronder ʼn geskorste polisieman. Gerhardus du Plessis (34) het reeds Woensdag in die hof verskyn. Sy saak is uitgestel tot 23 November wanneer hy na verwagting saam met Monye en Singh in die hof sal verskyn. Volgens berigte is Du Plessis ʼn dwelmverslaafde. Monye het Du Plessis glo beveel om die moord te pleeg terwyl Singh glo die wapen moes kry wat in die moord gebruik is. Die ander twee verdagtes sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn. Die motief agter die moord is egter steeds onbekend aangesien geen band tussen Henning en die vyf verdagtes reeds aan die lig gebring is nie.

Henning is verlede week Dinsdag deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet kort nadat sy haar 5-jarige seuntjie Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.