Chanelle Henning-moord: Eksman se beweerde vriend en nog ʼn verdagte in hof

Chanelle Henning se eksman, Nico, saam met hulle seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Andre Gouws, ʼn beweerde vriend van Chanelle Henning se eksman, Nico, het Vrydagoggend saam met nog ʼn verdagte in die Pretoria landdroshof verskyn in verband met Henning se moord verlede week.

Gouws en Willem Pieterse, wat glo die bestuurder was van die motorfiets wat in die moord gebruik is, het saam met die Nigeriese Olimpiese Atleet, Ambrose Monye, en Preshan Singh verskyn. Gouws het Monye na bewering opdrag gegee om Henning se moord te reël. Nico Henning en Gouws het glou nou bande en is ook vriende op Facebook. Gouws en Pieterse is aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Die polisie hou egter vol dat Henning nie ʼn verdagte is in die saak nie. Monye en Singh het weer in die hof verskyn sodat die landdros sy besluit kon bekendmaak oor waar hulle aangehou sal word. Hulle sal in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou word. Die polisie het intussen bekendgemaak dat hy beslag gelê het op twee motorfietse . ʼn Polisiewoordvoerder, kol Neville Malila, sê volgens hulle ondersoek is twee motorfietse gebruik om die moord op Henning uit te voer. Malila sê een van die motorfietse is in Pretoria op beslag gelê terwyl die ander in Vereeniging gevind is.

Monye het na bewering die geskorste polisieman, Gerhardus du Plessis, beveel om die moord te pleeg. Du Plessis, wat Maandag geskors is as speurder by die Hercules-polisiekantoor, het glo erken dat hy die sneller van die moordwapen getrek het. Du Plessis het reeds in die hof verskyn en word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Monye en Singh het Donderdagoggend in die Pretoria landroshof verskyn. Monye en Singh word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Monye is verlede week Dinsdag vrygespreek op aanklag van moord. Daar is bevind Monye het uit selfverdediging opgetree toe hy op 4 Julie 2009 Neville Olivier (48) doodgeslaan het tydens ʼn padwoede voorval. Olivier en Monye se motors het glo mekaar se pad versper. Olivier en nog drie mans wat saam met hom in die motor was, het glo uitgeklim en na Monye se motor gestap. Olivier het Monye glo verskeie kere gestamp. Monye het hom glo teruggestamp waarna hy geval het en op die toneel dood is. Monye en Singh het intussen Donderdag in die hof aangevoer hulle is aangerand tydens hulle inhegtenisname en dat hulle toegang tot ʼn dokter geweier is. Monye is glo betrokke by dwelmbedrywighede in Pretoria. Volgens berigte is Du Plessis ʼn dwelmverslaafde. Monye het Du Plessis glo beveel om die moord te pleeg terwyl Singh glo die wapen moes kry wat in die moord gebruik is.

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Die motief agter die moord is egter steeds onbekend aangesien geen band tussen Henning en die vyf verdagtes reeds aan die lig gebring is nie. Al vyf verdagtes sal Woensdag in die Pretoria landdroshof verskyn. Nog ʼn verdagte het glo reeds in die hof verskyn in verband met Henning se moord. Volgens Beeld het die 20-jarige Deon Schoeman glo die vuurwapen gesteel waarmee Henning glo geskiet is. Schoeman het glo in Februarie vanjaar die vuurwapen gesteel voor hy dit glo verkoop het. Dit is nie duidelik aan wie hy die vuurwapen verkoop het nie.

Henning is verlede week Dinsdag deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet kort nadat sy haar 5-jarige seuntjie Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie steel Glen afgelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.