Chanelle Henning-moord: Ma wil “praat”

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin.

Die ma van Chanelle Henning, wat op 8 November voor haar seuntjie se kleuterskool doodgeskiet is, het beloof om alle besonderhede rondom die moord op haar dogter bekend te maak.

Henning se ma, Sharon Saincic, het aan die Pretoria News gesê dat sodra die “meesterbrein” agter die moord op haar dogter agter tralies is sal sy meer besonderhede rondom die moord bekendmaak. “ Dit is te sensitief om nou daaroor te praat. Ons sal ʼn mediakonferensie hou wanneer die tyd reg is en dan bekendmaak wat regtig gebeur het. Al is dit eers twee jaar van nou…ons sal sekermaak die waarheid kom uit.” Henning se ouers het Kersdag saam met hulle 5-jarige kleinkind Benjamin spandeer. Benjamin is tans inpleegsorg ná die moord op sy ma. Henning se gesin sê hoewel die “meesterbrein” agter hulle dogter se moord steeds op vrye voet is, is hulle positief dat die persoon wel in hegtenis geneem sal word.

Gerhardus du Plessis en Willem Pieterse het op 14 Desember skuldig gepleit op Henning se moord. Du Plessis en Pieterse is albei tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en vyf jaar vir die onwettige besit van ʼn vuuwapen en ammunisie, nadat hulle ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Volgens die ooreenkoms sal Du Plessis en Pieterse teen die ander beskuldigdes in die saak getuig. Pieterse is glo ʼn kennis van die voormalige Olimpiese atleet, Ambrose Monye (37), wat ook ʼn beskuldigde is in die saak. Pieterse het glo “werkies” gedoen vir Monye. Andre Gouws (47), ʼn beweerde vriend van Henning se eksman, Nico, het glo opdrag aan Monye gegee dat Henning vermoor word. Die hof het gehoor Pieterse het Du Plessis aan Monye voorgestel en hulle het saam met Gouws ʼn vergadering gehou waar Henning se moord beplan is. Gouws het Du Plessis en Pieterse glo gaan wys waar Henning gebly het en waar haar seuntjie skoolgaan. Du Plessis het gesê wou nie voortgaan met die moord nie maar Monye het glo gedreig om sy gesin dood te maak.

Du Plessis en Pieterse is op Dinsdag 8 November na Faerie Glen waar hulle Henning doodgeskiet het nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Du Plessis het Henning doodgeskiet met ʼn vuurwapen wat hy glo by Preshan Singh, nog ʼn beskuldigde in die saak, gekry het. Monye het glo verneem dat die Valke op sy spoor was en het Pieterse beveel om die motorfiets wat in die moord gebruik is te verbrand. Du Plessis het homself ʼn paar dae later aan die polisie oorgegee. Daar is ook redes vir versagtende omstandighede aangevoer waartydens die hof gehoor het dat Pieterse twee kinders het en dat een ʼn gehoorgestremde is. Pieterse en sy gesin woon in ʼn huurhuis terwyl sy vrou die enigste broodwinner is. Pieterse het erken dat hy verslaaf is aan alkohol en dwelms. Du Plessis sê hy het homself aan die polisie oorgegee weens die trauma wat hy ervaar het na die moord. Die hof het gehoor dat Du Plessis vroeër met post-traumatiese stres gediagnoseer is nadat hy op ʼn misdaadtoneel was waar ʼn kind vermoor is. Hy het ook erken dat hy ʼn dwelmverslaafde is.

Singh is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Monye en Gouws sal op 17 Januarie om borg aansoek doen.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.