Chanelle Henning-moord: Verdagte in hof vir korrupsie

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Die geskorste Pretoria polisiebeampte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Chanelle Henning het in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie.

Pretoria News berig dat Gerhardus du Plessis (34) Donderdag op aanklag van korrupsie in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn het. Dié aanklagte teen hom hou verband met ‘n gesteelde dossier. Die hof het gehoor dat Du Plessis, wat ook teregstaan op aparte aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, sy borgtogaansoek in die Henning-moordsaak laat vaar het en in pleitonderhandelings met die staat is. Du Plessis se regsverteenwoordiger het aangedui dat dit nutteloos sou wees om borg in die korrupsie-saak in te stel aangesien sy kliënt in die Garsfontein-polisiekantoor aangehou word. Du Plessis is vroeër op borgtog vrygelaat in die korrupsie-saak voor hy in verband met Henning se moord in hegtenis geneem is. Die hof het egter ingestem om die R2 000 wat Du Plessis se broer vroeër vir borgtog betaal het, aan hom terug te betaal. Die hof het ook ingestem om die aanklagte van korrupsie met die ander aanklagte saam te voeg. Du Plessis sal na verwagting weer volgende week in die hof verskyn op al die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.