Chanelle Henning-moordenaars word gevonnis

Chanelle Henning Foto: platinumweekly.co.za

Chanelle Henning Foto: platinumweekly.co.za

Ambrose Monye en Andre Gouws sal Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis word vir hul aandeel in die moord van die jong ma van Faerie Glen, Chanelle Henning.

Die twee mans het na maande van ontkenning uiteindelik, nadat hulle ‘n paar weke gelede skuldig bevind is, erken dat hulle betrokke was by die 26-jarige se moord. Monye, ‘n voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, het Maandag aan die hof gesê hy is skaam oor sy dade.

Henning is op 8 November 2011 in Faerie Glen doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Sy en haar vervreemde man, Nico Henning, was in daardie stadium in ‘n hofgeding gewikkel oor toesig oor hul seuntjie.

Nico is in Desember in hegtenis geneem kort nadat Gouws, wat eens sy beste vriend was, aan die hof gesê het Nico het hom R1 miljoen aangebied om sy vrou te vermoor. Gouws sê hy het op sy beurt R50 000 vir Monye aangebied om die sluipmoordenaars op te spoor. Gerhardus (Doepie) du Plessis en Willem (Pike) Pieterse, die twee mans wat op ‘n motorfiets verby Chanelle gejaag en haar geskiet het, dien elk 18 jaar tronkstraf uit vir hul aandeel in die moord. Hulle het altwee skuld erken op hul aandeel in die moord. -SAPA

Lees alle vorige berigte wat met Chanelle Henning verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.