Chanelle Henning se man het haar laat agtervolg

Chanelle Henning

Nico Henning, die vermoorde Chanelle Henning se man, het haar glo laat agtervolg, het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag gehoor.

“André Gouws het sy vriend, Nico Henning, in ‘n egskeidingsaak bygestaan wat verband gehou het met die kind,” het Daan Mostert, prokureur vir Gouws, gesê.

Gouws en Ambrose Monye word beskuldig van die moord op Henning, sameswering tot moord, sameswering om ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Hulle het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Mostert het aan die hof gesê sy kliënt beplan om te getuig dat hy, op Nico se versoek, Chanelle agtervolg het. Hy sê dit is om te bepaal of Chanelle dwelms gebruik, en indien wel, waar sy dit gekoop het. “Sy [Gouws se] probleem was tyd.” Hy het dus Monye genader en hom gevra om mense wat vir hom werk te kry om Chanelle te agtervolg.

Twee mans op ‘n motorfiets het Chanelle Henning (26) op 8 November 2011 in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Mostert het Willem Pieterse, wat tans onder kruisverhoor is, hou vol dat hy en Gerhardus du Plessis, albei voormalige polisiebeamptes, nie gehuur is om Chanelle te agtervolg nie, maar om haar te vermoor. “Hy [Gouws] kan sê wat hy wil, maar ek sê jou nou, hy lieg,” het Pieterse gesê.

Pieterse en Du Plessis beweer dat Monye hulle teen R10 000 elk gehuur het om Chanelle te vermoor. Hulle het beide in Desember 2011 skuldig gepleit en dien tans 18 jaar tronkstraf uit.

Mostert het Pieterse oor sy pleitooreenkoms met die Staat uitgevra. “Ek is ‘n man. Ek hoef nie tyd te mors nie,” het Pieterse gesê. Volgens Pieterse is geen voorwaardes aan hom gestel in ruil vir sy pleitooreenkoms nie. “Ek dank die Here ek het net 18 jaar gekry.”

Mostert het dit toe aan Pieterse gestel dat niemand iets deur Chanelle se dood sou kry nie. “As niemand gevang is nie, sou almal voordeel getrek het,” het Pieterse geantwoord.

Pieterse het vroeër getuig dat dit nie in sy aard is om te moor nie. “Ek kon haar net nie skiet nie. Dit is nie in my aard om mense dood te maak nie,” het hy gesê. “Ek het slegs die motorfiets bestuur. Ek is nie die leier nie.”

Die tweede getuie is Du Plessis. Hy sê dat hy, buiten die skuldigbevinding op die moord, ook in Februarie van korrupsie skuldig bevind is en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Op die vraag wie Chanelle doodgeskiet het, het hy geantwoord: “Dit was ek”.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.