Chanelle Henning: Verdagte in leuens betrap

Chanelle Henning

Die staatsaanklaer-span in Chanelle Henning se moordsaak het Dinsdag die verdagte Ambrose Monye daarvan beskuldig dat hy in sy borgaansoek in die landdroshof in Pretoria gelieg het.

Monye het sy borgaansoek ingedien nadat hy ses maande gelede in hegtenis geneem is, berig EWN. Henning (26) is in November 2011 doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by ‘n kleurterskool in Faerie Glen, oos van Pretoria, afgelaai het. Tydens sy verskyning in die hof vroeër in Juniemaand, het Monye ‘n adres aan die staat verskaf waar hy glo sou tuisgaan indien hy op borgtog vrygelaat word.

Speurders het verlede week ‘n besoek aan die adres afgelê en het foto’s van die huise in die omgewing geneem. Staatsaanklaer Gerrie Nel het Monye versoek om uit die foto’s aan te dui watter huis aan sy vriend behoort. Die verdagte was nie in staat om die huis uit te wys nie.

Ambrose Monye Foto: EWN

Nel sê die inwoners in die huise het nog nooit van Monye se vriend, Jabu Mahlangu, te hore gekom nie. Monye het daarop die staat daarvan aangekla dat hulle getuies intimideer het om die saak in hul guns te laat verloop.

Nel sal na verwagting die staat se saak teen Monye aan die hof moet verstewig.

Monye het vroeër aan die hof gesê dat hy nog nooit vantevore skuldig bevind is nie. Nel het aan Monye bewys gelewer dat hy in twee vorige sake skuld erken en skulderkenningsboetes betaal het. Een daarvan was dat hy ‘n man aangerand het, en ‘n ander vir die onwettige besit van dwelmmiddels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.