Channelle Henning-saak: Nico betaal R10 miljoen se sekuriteit

Nico Henning toe hy in Desember borgtog gekry het.

Nico Henning toe hy in Desember borgtog gekry het.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Maandag gehoor dat Nico Henning, die vermoorde Chanelle Henning se vervreemde man en die beweerde meesterbrein agter haar moord, het R10 miljoen in sekuriteit aan die staat verskaf om te verseker dat hy op borgtog vrygelaat kan word, berig EWN.

Henning is in Desember borgtog van R10 miljoen toegestaan deur die Pretoria-streekshof. Hy is vrygelaat op borgtog op die voorwaarde dat hy R300 000 kontant betaal, wat hy reeds gedoen het, en ʼn verdere R9.7 miljoen se sekuriteit.

Henning se prokureur, adv. Piet van Wyk, het gesê sy kliënt het aan hom die titelaktes oorhandig van twee eiendomme wat Henning besit, asook ʼn beëdigde evaluasie dat die eiendomme ‘n minimum van R10 miljoen werd is. Van Wyk het die hof verseker daar was geen lenings of verbande op die twee eiendomme uitgeneem nie.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het gesê hy is tevrede met die ooreenkoms en sal die aktes in ʼn veilige plek bêre totdat die hofverrigtinge afgehandel is.

Die saak is tot Junie uitgestel om die polisie meer tyd te gun om die saak voor te berei.

Henning het homself op 6 Desember aan die polisie in Villieria, Pretoria, oorgegee. Andre Gouws (49), wat vroeër skuldig bevind is aan die moord, het tydens vonnisoplegging getuig dat Henning hom R1 miljoen aangebied het om sy vrou te vermoor sodat hy toesig oor hulle kind kan bekom.

Gouws en Ambrose Monye is saam skuldig bevind op hul aandeel aan die moord.
Henning het tydens sy aansoek om borgtog alle bewerings van Gouws ontken. Hy het aangedui hy is bereid om borgtog van R5 miljoen te betaal en sy prokureur, Piet van Wyk, het gesê sy kliënt is nie ʼn vlugrisiko nie.

Twee ander mans, Gerhardus du Plessis en Willem Pieterse dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuldig gepleit het op hul aandeel in die moord.

Lees alle berigte wat met Chanelle Henning verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GawieM ·

Daar moet GEEN borg aan vermeende moordenaars en verkragters toegestaan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.