Chaos by skoolhoof se verkragtingsaak

Die familie en vriende van ʼn skoolhoof wat van verkragting aangekla word het gister ʼn polisiebeampte, ʼn kameraman van die SAUK en gemeenskapslede wat die kinders ondersteun, aangeval.

Die groep, wat met knopkieries en stokke gewapen was, het die 44-jarige skoolhoof Maandag by sy tweede hofverskyning in die landdroshof in Scottburgh ondersteun.

Die man is verlede week by sy skool in hegtenis geneem nadat laerskooldogters polisiebeamptes oor die beweerde misbruik ingelig het. Die polisiebeamptes het die skool as deel van ʼn uitreikprogram besoek. Die dogters het gesê dat die man hulle na sy kantoor gelok het om te sê dat hulle sy kantoor moet skoonmaak of dat hy hulle ekstra lesse sou gee.

Honderde mense het die hofverskyning bygewoon, insluitend aktiviste vir kinderregte, die ANC, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysvakbond (SADTU), gemeenskapslede en die kinders se ouers.

Ondersteuners van die skoolhoof en ondersteuners van die kinders het mekaar begin slaan, en toe die ondersoekende beampte opdaag, het een van die skoolhoof se ondersteuners haar aangerand. Die polisiebeampte het die dossier die heeltyd vasgehou.

Zamo Ngcobo, ʼn kameraman van die SAUK wat die aanval op film vasgelê het, het toe die fokus van die aanval geword toe ʼn vrou, wat glo die skoolhoof se dogter is, water in sy gesig gegooi het. Die groep het hom geklap en probeer om sy kamera af te vat voordat ANC-raadslid Ntokozo Maphumulo ingegryp het. Maphumulo het die joernalis teen die skare beskerm.

Die skoolhoof se dogter is glo ook vroeër deur gemeenskapslede geklap en geboks. Toe Maphumulo hier wou ingryp, het ʼn man wat ʼn stuk hout rondgeswaai het, hom só hard gestamp dat hy geval het. ʼn Paar van die vroue het bevrees weggehardloop.

Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. “ʼn 20-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat sy ʼn polisiebeampte aangerand het,” het Zwane gesê.

Die skoolhoof staar vier aanklagte van verkragting en drie aanklagte van seksuele aanranding in die gesig. Hy word ook daarvan aangekla dat hy homself in die openbaar ontbloot het. Die saak is tot 22 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.