Chaos op R21-hoofweg

Dié vragmotor is vandag op die M2 naby Germiston vermoedelik deur stakende vragmotorbestuurders aan die brand gesteek. Foto: EWN

ʼn Gedeelte van die R21-deurpad in die Oos-Rand, moes Donderdagoggend omstreeks 10:30 gesluit word nadat stakende swaarvoertuigbestuurders gewelddadig geraak het.

Die pad tussen die Voortrekker- en Pomona-afritte was gesluit nadat betogers petrolbomme en klippe na verbygaande swaarvoertuie geslinger het. ʼn Swaarvoertuig het in die slag gebly en aan die brand geslaan.

Volgens inspekteur Kobeli Moheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, was daar ʼn voorval naby die R24-afrit waar ʼn vragmotorbestuurder die voertuig in die pad gelaat en weggehardloop het nadat hy met klippe bestook is.

Volgens ʼn ooggetuie ruk die staking hand-uit en die polisie het ondersteuning ingeroep.

Motoriste word gewaarsku om die R21-deurpad in ʼn noordelike rigting te vermy. Daar is ook voorvalle op die M2 aangemeld. Na wat verneem word, is drie mense tydens die aanvalle beseer.

Mense wat na die OR Tambo-lughawe onderweg is, word aangeraai om van die Gautrein gebruik te maak of ekstra reistyd te beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.