Die aktrise Charlize Theron het ʼn babatjie aangeneem.
Theron se publisiteitsbeampte het Woensdag in ʼn verklaring aan die Associated Press gesê die aktrise is nou die “trotse moeder van ʼn gesonde babaseuntjie genaamd Jackson”. Geen verdere besonderhede is verskaf nie.
Theron is van Benoni, Suid-Afrika. Dit is die aktrise se eerste kind. Die 36-jarige het ʼn Oscar-toekenning ontvang vir haar rol as die reeksmoordenaar Aileen Wuornos in die 2003-film Monster. Sy is ook genomineer vir North Country in 2005. Haar volgende rol is as die sluwe koningin in Snow White and the Huntsman.