Charlize Theron takel Vigs-kwessie in PTA

Charlize Theron. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die bekroonde Oscar-wenner, Charlize Theron, het Maandag met president Jacob Zuma vergader in ʼn poging om MIV/Vigs in die land te beveg.

Theron en Zuma het by die Uniegebou in Pretoria vergader in haar hoedanigheid as UNAIDS se boodskapper van vrede. UNAIDS is die Verenigde Nasies se program om MIV/Vigs te beveg.

Theron het die jeug van Suid-Afrika aangemoedig om meer oor MIV/Vigs te leer en om hulself gesond te hou. “Ons is almal hier om julle te ondersteun. Julle is die toekoms van die land en ek vra julle om die geleentheid te gebruik om ʼn gesonde en bemagtigde lewe te lei,” het Theron, wat ʼn rooi Vigs-strikkie gedra het, gesê. “Dit is vir my altyd baie spesiaal om huis toe te kom, en selfs meer spesiaal as ek ʼn kans kry om my ondersteuning aan die jeug van die land te verleen.”

Sy het gesê Suid-Afrikaners het al ver gekom om MIV te bekamp, maar dat te veel meisies steeds deur die krake val en dat hulle nie vergete moet bly nie.

Volgens Theron moet die stigma wat in sekere kringe aan MIV kleef, aangespreek word. “Elke persoon het die reg tot inligting om hulself gesond te hou. Mense moet hulself bemagtig, hetsy hulle besluit om seksueel aktief te wees of nie.”

Theron sê ʼn veilige skoolomgewing en onderwysers en beraders wat in staat is om te help is baie belangrik in die stryd teen MIV.

Foto: GCIS

Sy is in 2009 as die Verenigde Nasies se boodskapper van vrede aangewys om bewusmaking oor geweld teen vroue te bevorder. Een van haar projekte is bewusmaking in Afrika.

Zuma het Theron as “ʼn goeie burger” bestempel en haar terugverwelkom in die land en gesê die land is baie trots op haar. “Ons het ʼn goeie gesprek gehad en ons glo dit gaan ons ʼn groot hupstoot in die regte rigting gee,” het Zuma gesê.

Michel Sedibe, UNAIDS se uitvoerende direkteur, het gesê daadwerklike verandering het in ʼn tydperk in Suid-Afrika plaasgevind toe daar min hoop was. “Die vooruitgang wat in die land plaasgevind het, is merkwaardig,” het hy gesê.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het tydens die geleentheid gesê ʼn nasionale MIV-toetsveldtog wat soortgelyk is as dié van 2010, word binnekort weer van stapel gestuur en hy het veral mans gevra om in groter getalle hieraan deel te neem.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

leon ·

Net jammer sy voel niks vir haar volkgenote wat in plakkers kampe sit nie maar skenk elke jaar geld aan die a n c

Annemarie Pretorius ·

Ek dink nog altyd sy het die verkeerde velkleur!!!! :-(
Hoop hulle het vir haar n plekkie in soweto bespreek vir die nag!!! lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.