Cheetahs die eerste keer in die uitspeelrondes

Die Cheetahs het hul plek in die Super15-uitspeelrondes bespreek deur die Nieu-Seelandse Blues met 34-13 in Bloemfontein uit te stof.

Met ’n loslootjie volgende week wat hulle vier punte sal besorg en die vier wat hulle teen die Blues verdien het, verseker dat nie een van die spanne onder hulle op die rangleer hulle meer kan inhaal nie. Met 50 punte op die oomblik, en uiteindelik 54, sal hulle gelyk trek met die Reds.

Dit is ’n geskiedkundige mylpaal aangesien die Cheetahs nog nooit die uitspeelrondes van die Super15 kon haal nie. Hulle het ook hul kritici se monde gesnoer dat hulle nie hul Curriebeker-sukses in Super15-welslae kan omskep nie.

Dit het ook die Sharks en Stormers se laaste hoop om onder die uitspeelkandidate te eindig, finaal nek omgedraai. Die Blues het ook met hierdie nederlaag sy laaste kans weggegooi om onder die topseste eindig.

Die Blikore het drie drieë deur middel van Sarel Pretorius, Boom Prinsloo en Philip van der Walt gedruk. Riaan Smit se skopvoet was egter die Vrystaters se vernaamste punte-instrument: Hy het twee verdoelskoppe en vyf strafskoppe deur die pale gejaag. Die Cheetahs het duidelik hul huiswerk gaan doen ná die skrobbering wat hulle teen die Stormers laas week gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.