Cheetahs is die vroeë gunstelinge in 2013 se Curriebekerreeks

’n Interessante tendens het die afgelope ses jaar in die Curriebekerreeks plaasgevind.

In die verlede het dit dikwels gebeur dat een of twee spanne die Curriebekertoneel ‘n paar jaar lank oorheers, maar sedert 2007 was dit amper asof die top vyf provinsies in Suid-Afrika beurte gemaak het om die beker te wen. Net die Haaie van Natal kon in hierdie ses jaar twee keer koning kraai (2008 en 2010). Die Cheetahs se drie goue jare het in 2007 op hul laaste oorwinning in ’n eindstryd uitgeloop. Die volgende jaar het die Haaie net-net daarin geslaag om die Blou Bulle te wen, terwyl die Bulle in 2009 die bordjies verhang het. Daarna het die Haaie in 2010 weer gewen, gevolg deur die Leeus in 2011 en die WP in 2012.

Vanjaar behoort dinge egter anders te verloop nadat spanne soos die Blou Bulle en die Haaie na die Superrugbytoernooi baie verliese gely het aan spelers wat hul geledere verlaat het. Die Haaie en die WP sal boonop ook die meeste ly onder die internasionale rugby wat in Augustus en September vanjaar gespeel gaan word, aangesien hulle onderskeidelik ses en vyf topspelers aan die Springbokspan afgestaan het.

* Die Blou Bulle is egter die hardste geslaan met ses manne wat die unie na afloop van die SuperRugby toernooi verlaat het, terwyl nog twee van hul topspelers lang termyn beserings opgedoen het en ’n verdere vier opgeroep is vir nasionale diens by die Bokke. Die Blou Bulle sal dus die grootste deel van hul Curriebekerveldtog met ’n jong en onervare span voer. Dis onrealisties om te verwag dat hulle ernstige aanspraakmakers op die titel gaan wees. Daar kan eerder verwag word dat die Blou Bulle waarskynlik vanjaar in ’n ernstige stryd gewikkel wees om eerstens onder die top vier te eindig en sodoende die halfeindrondte te haal, maar tweedens sal hulle ook moet veg om nie heel onder op die puntelys te eindig en dalk die vernedering van ’n relegasiewedstryd teen die topspan uit die eersteliga in die gesig te staar nie.

* Hoewel Griekwas verlede jaar baie goed gevaar en byna vir die halfeindrondte gekwalifiseer het, kan hulle vanjaar dalk ’n bietjie sukkel. Hulle het sleutelspelers verloor en het nie dieselfde diepte as in 2012 nie. Pote Human is egter ’n uitgeslape afrigter en hy het ’n paar interessante nuwelinge na Kimberley gelok. Van Kimberley gepraat, die GWK-stadion in dié stad bly een van die Griekwas se grootste bondgenote aangesien spanne uit die groter unies gewoonlik sukkel op dié harde veld. Daarby is Human waarskynlik een van die beste voorspelerafrigters in die land en daar kan verwag word dat Griekwas in elke wedstryd ernstige vrae aan hul opponente sal vra, veral wat betref hul skrumwerk en hul uitvoeringvan die rolmaalbewegings.

* Die Leeus speel al die hele deur onder leiding van Johan Ackerman puik en opwindende rugby en hulle het reeds gewys dat hulle nie bang is om die bal lug te gee nie. Die Leeus sal ook allerhande emosionele dryfkrag agter hul Curriebekerveldtog in 2013 hê. Daarby het die Leeus nie ’n enkele speler aan die Springbokspan afgestaan nie, wat beteken dat hulle op volsterkte sal wees vir die Curriebekertoernooi. Hul enigste groot terugslag is die verlies van hul kaptein, JC van Rensburg, wat in Frankryk gaan speel. Verwag egter ’n groot poging van Ackerman se span en baie innoverende planne van hul bestuur om die toeskouers ook terug te lok na Ellispark.

* Die Haaie doen tradisioneel altyd goed in die Curriebeker en hulle het genoeg diepte in Durban om vanjaar byna verseker weer onder die topvier te eindig. Die groot vraag in Durban is egter of die nuwe bedeling gaan werk. Daar is geen twyfel dat Brendan Venter een van die beste rugbybreine in Suid-Afrika is nie, maar sal hy sy stempel kan afdruk op die manne van Durban? Verwag baie innovasie en opwindende rugby van die Haaie. Die enigste probleem wat Venter gaan hê is om ’n pak voorspelers bymekaar te kry om sy span deur te dra totdat al sy Springbokke eers teen Oktobermaand terug sal wees.

* Hoewel die WP die verdedigende kampioen is, sal hy drasties moet verbeter op sy poging as die Stormers in vanjaar se Superrugbyreeks as hy die GoueBeker in die Kaap wil hou. Die WP het ’n skatkis van talent, maar ’n mens kry die indruk dat dit dalk weer tyd is vir ’n bietjie nuwe bloed in sy bestuur. Daar het stagnasie plaasgevind en die kans dat hierdie span weer op die golf van emosie die titel sal kan wen, is onwaarskynlik. Deon Fourie bly egter sy gevaarlikste wapen en daar kan ook verwag word dat die jong losskakel Gary van Aswegen vanjaar in die Curriebekerreeks uiteindelik tot sy reg sal kom. Hy het puik rugby gespeel in die laaste deel van die Superrugbyreeks en as die beseringspook uiteindelik wegbly, sal Suid-Afrika vanjaar deeglik van dié talentvolle jong man kennis neem.

* Pale Toe se vroeë gunsteling vir vanjaar se Curriebeker is die Cheetahs. Die kern van hierdie span sou baie selfvertroue geput het uit hul Superrugbyveldtog en dan het hulle ook nog ’n paar goeie aanwinste gekry vir die laaste deel van die seisoen. Die Cheetahs het alles wat van ’n kampioenspan verwag word. Hulle skrum goed, hulle beskik oor van die beste losvoorspelers in die land en kan maklik die afbreekpunte teen enige ander Curriebekerspan oorheers én hulle sit steeds met baie spoed en vaardigheid in hul agterlyn. Naka Drotske en sy bestuurspan het ook, na ’n hele paar seisoene in die saal, ’n mate van volwassenheid bereik en die Cheetahs het in die Superrugbyreeks gewys dat hul grootste kwaal in die verlede – hul swak verdediging – ook iets van die verlede is. As die Cheetahs nie te ernstig onder beserings deurloop nie, sal hulle beslis eindstrydkandidate wees. Hulle moet ’n goeie kans hê om vir die eerste keer sedert 2007 die Curriebeker hier teen middel-Oktober Bloemfontein toe te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.